Gautengers hier voor vir landwye kabeldiefstal

Deur Garnett Wicomb
’N SAAK teen ses mans van Gauteng wat daarvan aangekla word dat hulle Telkom-koperkabels van meer as R1 miljoen gesteel het, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof tot 21 Augustus uitgestel.

Malome Matsetela, Amos Ngubeni, Samuel Ngwenya, Linda Malopi, Simon Thembe en Wilson Khoza staan tereg op 12 aanklagte van diefstal asook rampokkery en geldwassery.

Luidens die klagstaat is die kabels tussen 2011 en 2015 op plekke regoor die land, onder andere op Prins Albert, Beaufort-Wes, Pofadder, Brakpan, Port Nolloth, Kenhardt, en in Gauteng gesteel en dan na ’n skrootwerf, wat aan Matsetela behoort, geneem.

Volgens adv John Reyneveld is goedkeuring verleen dat die saak gesentraliseer en op Oudts­hoorn deur die Wes-Kaapse Streekhofpresident, landdros B Langa, aangehoor word.

Die landdros was nie Vrydag op Oudtshoorn nie en die saak is deur streeklanddros LA Wilkens tot 21 Augustus uitgestel na die finalisering van regsverteenwoording vir al die beskuldigdes.

Matsela en Khoza word deur Vaughn Shone verteenwoordig en Ngubeni, Ngwenya, Malopi en Thembe deur adv Steven Lourens.