Clinton Mentoor (16). Foto verskaf
Deur Garnett Wicomb en Liesel le Roux
DIE gemeenskap van Bridgton is die naweek geruk deur die mesdood van ’n 16-jarige tiener van Lappertstraat, Clinton Mentoor.
Clinton, ’n graad 9-leerder van Bridgton Sekondêr, is dood na ’n beweerde stryery met sy ma Saterdagmiddag omstreeks 12:30 waartydens hy met ’n mes in die nek gesteek is. Hy is volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, op die toneel dood.
Die hoof van Bridgton Sekondêr, Kelvin Ellis, het Clinton as ’n stil en toegewyde leerder bestempel.
’n Maatskaplike werkster het die skool Maandag besoek om berading vir sy klasmaats te gee.
Ellen Mentor (37) het Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn in verband met Clinton se dood.
Die saak is deur landdros Roelf Konstabel tot 19 September uitgestel vir ’n borgprofiel en borgaansoek.
Familielede van Mentoor het die hof na haar verskyning huilend verlaat.
• Valentino Ewerts (24) het ook Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op aanklag van moord.
Ewerts, wat van die moord op Glenton Arendse aangekla word, is in die B-hof deur landdros Johan Steynberg vir ’n borgprofiel en borgaansoek tot 18 September uitgestel.
Arendse is volgens sers Michaels Vrydagaand omstreeks 22:12 in Kuduweg, Bridgton, verskeie kere met ’n mes gesteek. Hy het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.