Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n jongman van Dysselsdorp wat na bewering ’n bejaarde familielid met ’n passerkoevoet (Tommy bar) gesteek het, is in die Oudtshoorn Streekhof vir verdere verhoor uitgestel.
Doubelle Claassen (20) word van huisbraak, aanranding met die doel om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging aangekla. Hy pleit onskuldig en het glo ’n alibi waar hy daardie aand was.
Jan Claassen (63) het getuig dat Doubelle op 24 Julie 2015 die deur van sy huis oopgeskop, hom met die passerkoevoet gesteek en met klippe na sy huis gegooi het. Volgens Claassen was Doubelle en van sy vriende die betrokke aand op sy erf en het hulle geld en dagga gesoek.
“Hulle was so veertien bymekaar en ek het vir hulle gevra wat ek hulle aan gedoen het,” het Claassen getuig. Doubelle was volgens hom die voorbok.
Volgens Claassen het hulle weggehardloop nadat ’n buurvrou, Nettie Coerecius, gevra het wat hulle maak.
Hy het getuig dat hy ook van die ander persone op sy erf herken het omdat daar ’n sterk lig naby sy huis is.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is vir verdere verhoor tot 4 Oktober 2018 uitgestel.