Groot rugbylegende van Oudtshoorn op dié manier erken en onthou

Jan Lotz (regs) in 1985 tydens ’n sportdinee saam met dr Danie Craven (middel) en Saag Jonker. Jonker is as jongeling deur Lotz afgerig en het provinsiaal gespeel asook aan die Springbok­proewe deelgeneem vir ’n toets-reeks teen die Franse. Lotz het altyd geglo dat Jonker toe Springbokkleure moes gekry het.

Jan Lotz… soos altyd by geleenthede geklee in rugbydrag van die Oudtshoorn Rugbyklub.

Die bronsborsbeeld van Jan Lotz wat deur die Oudtshoorn Rugbyklub laat maak is, het ’n staanplek in die Jan Lotz Huis in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn gekry.

DEUR die woonhuis van die SWD-rugbylegende Jan Lotz te omskep in ’n kantoorblok en dit Jan Lotz Huis te noem, het Hugo en Danie van der Berg, bekende sakemanne van Oudtshoorn, ’n belangrike bydrae gelewer om erkenning aan Lotz te gee en sy naam te laat voortleef.

Lotz wat Dinsdag, 17 Junie 2014, in die ouderdom van 92 jaar oorlede is, se huis te Baron van Reedestraat 147 is ná sy dood opgeveil en die bod toegeslaan op die Van der Bergs. Die veiling is deur die bekende sakeman en boer Saag Jonker, wat as jong man ’n afslaer was, opgeveil. Jonker het ’n lang verbintenis met Lotz gehad en het onder Lotz se afrigting rugby gespeel.

Jonker het erkenning gegee aan die Van der Bergs vir die mooi manier waarop hulle die ont­wikkeling gedoen het en dat hulle op dié manier erkenning gegee het aan Lotz wat lewenslange erepresident van die Oudtshoorn Rugbyklub was en algemeen bekend gestaan het as die Danie Craven van SWD Rugby.

Jonker dink met groot heimwee aan Lotz terug. “Hy het baie hoë standaarde gehad en was nie maklik om tevrede te stel nie. ’n Mens kon nooit goed genoeg vir hom speel nie. Jy moes omtrent drie drieë gedruk het om ’n kompliment van hom te kry,” het Jonker met ’n glimlag gesê.

“Hy was egter vir al die rugbyspelers van die Oudtshoorn Rugbyklub ’n mentor. Ons almal het groot respek vir hom gehad,” het hy gesê.

Ter erkenning van Lotz het die Oudtshoorn Rugbyklub ’n borsbeeld van hom laat maak. Dié borsbeeld het nou ’n ereplek in Jan Lotz Huis ingeneem nadat die klub die borsbeeld aan die Van der Bergs toevertrou het.

Torch Lategan, ’n oudkaptein van Oudtshoorn se eerste rugbyspan, het in ’n huldeblyk by Lotz se begrafnis gesê Lotz het hom uitgesonder as ’n sportman vir wie dissipline, respek, lojaliteit en toewyding van die grootste belang was.
Lotz het op Prins Albert grootgeword en het later as gesondheidinspekteur gewerk.

Hy het hom op 4 Julie 1950 as speler by Oudtshoorn Rugbyklub aangesluit. Hy was binne drie weke die kaptein van die eerste span. Onder sy kapteinskap het Oudtshoorn van 1950 tot 1958 vier keer die Groot Uitdaagbeker van die SWD gewen. Lotz het ook as kaptein vir die SWD teen die Britse Leeus uitgedraf en as onderkaptein teen die Wallabies gespeel.

Nadat hy sy rugbystewels opgehang het, was Lotz van 1960 tot 1977 afrigter van die klub. In dié tyd het die Oudtshoorn Rugbyklub ongekende hoogtes bereik deur die Groot Uitdaagbeker van die SWD elf keer te wen.

Hy was ook later by die administrasie van die klub bestrokke en is tot kort voor sy dood ’n be­kende gesig langs die veld trots geklee in onder meer die maroen baadjie en das van die Oudts­hoorn Rugbyklub.

Lotz sal ook onthou word vir sy wye versameling rugbyfoto’s, -statistieke en -uitknipsels. (Deur Schalk le Roux)