Beminde oud-skoolhoof oorlede

’N GELIEFDE oud-skoolhoof van die Vlakteplaas Primêre Skool buite De Rust, Philip Muller (85), van Pearlweg, Colridge View, is verlede Vrydag na ’n lang siekbed oorlede en word vandag (Donderdag) ter ruste gelê.
Muller, alombekend as Meester Phillo, was een van die stigterdia­kens van die Weyers Memorial United Congregational Kerk, en was vanaf 1981 tot met sy aftrede in 1993 hoof van die Vlakteplaas UCC Primêre Skool, na die aftrede van sy groot vriend en mentor, meester Ampie Wicomb,

Hy het sy onderwysloopbaan van 37 jaar in 1956 op Grootkraal naby die Kango Grotte begin.

In ’n onderhoud so twee jaar gelede het hy vertel dat die onderwysers met fietse vanaf Oudtshoorn gery en vir die week in ’n hotel op Grootkraal tuisgegaan het.

“Ek onthou nog goed hoedat dit gespook het in daai hotel,” het hy des­tyds vertel.

Na drie maande op Grootkraal is hy vir ses maande na Avontuur in die Langkloof voordat hy in 1957 op Snyberg begin skoolhou het.

Hier was hy vir nege jaar voordat hy in 1966 Vlakteplaas toe gegaan het.
In een van sy kostelike staaltjies het hy van die oom van Vlakteplaas vertel wie se siek vrou hy gereeld na die hospitaal op Oudts­hoorn moes neem en die man R2 gevra het vir elke rit.

Die man het egter nooit betaal nie en toe hy hom na die vrou se dood vra om darem ietsie te betaal, was sy antwoord: “Die vrou is dan dood, Meester!”

Hy het ook vertel dat hulle in daardie jare nie net skoolgehou het nie.
“Ons was die siel­kundiges, dokters, beraders en predi­kante.

“Die mense het met al wat ’n pro­bleem is na ons gekom.”

Hy het op ’n keer ’n medisynemengsel aangemaak vir ’n kind wat vreeslik gehoes het.

“Die hoes was gou verby en die volgende dag was daar ’n klomp ouers by die skool wat van die medisyne wou hê!”

Muller was kerkraadslid van die Dysselsdorp Congregational Kerk en later van die Oudtshoorn United Congregational Kerk en tot sy dood ere-dia­ken van die Weyers Memorial United Congregational Kerk.

Sy eggenote, Denise, het hom laat verlede jaar ontval.

Hy laat drie seuns, Vaughan, Kevin en Mario, hul eggenotes, twee broers, Harold en Danny, ’n suster, Elaine Martin, vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders agter, en word vanoggend (Donderdag) vanuit die Weyers Memorial United Congregational Kerk begrawe. (Deur Garnett Wicomb)