Sport help dorp oorleef

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Daar was die afgelope week sowaar inwoners van Oudtshoorn wat gekla het omdat die munisipaliteit        R100 000 bewillig het om die afgelope Sondag se SuperSport-rugby­fees op die dorp moontlik te maak.

Die klagtes mag uit onkunde spruit, of bloot uit ’n negatiewe hou­ding teenoor alles wat die Oudts­hoorn Munisipaliteit doen.

Die wat kla, verstaan nie dat die munisipaliteit deur hul bydrae – eintlik maar ’n druppel in die emmer van die koste om so ’n nasionale byeen­koms aan te bied – dit moontlik ge­maak het dat miljoene rande die dorp binnegekom het; dat Oudtshoorn op TV bemark is, en dat inwoners gratis ’n topsportbyeenkoms kon bywoon.

Toerisme – wat sporttoerisme en kunstefeeste insluit –  dra Oudtshoorn  ekonomies. Ons as inwoners moet besef dat sul­ke byeenkomste mense na Oudts­hoorn bring en dat dit dié plattelandse dorp help om te oorleef. Al die gereelde byeenkomste op die dorp skep werk­geleenthede, hou besig­he­de se deure oop (en beskerm so men­se se werk) en is een van die dinge wat Oudts­hoorn so ’n lekker dorp maak om in te woon.

Oudtshoorn is die ideale tuiste vir groot sportgeleenthede. Daar is genoeg kundigheid op die dorp om ’n groot byeenkoms aan te bied; in groot mate as gevolg van die KKNK en talle ander groot sportbyeen­komste die afgelope dekades. Die dorp se infrastruktuur help ook om sulke byeenkomste na die dorp te trek.

Dit was ook deel van die Suid-Afri­kaanse Rugbyunie (SARU) se motivering om so ’n prominente byeenkoms na die Klein Karoo te bring.

Volgens Hennie Baartman, president van die SWD Rugbyunie, het ’n landwye opname wat deur SARU gedoen is, bevind

Oudts­hoorn se ge­riewe, die ondersteuning van die ge­- meenskap en die plaaslike munisipaliteit sowel as toeskouergetalle is die beste in die land.

Dit is tog seker iets waarop elke inwoner trots kan wees.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het ’n keuse gehad om nee te sê vir dié Supersport-byeen­koms. Gelukkig het hulle die geleentheid aangegryp.

• Dankie aan almal wat die wintervakansie met ’n glimlag gewerk het om verskeie groot sportgeleenthede suksesvol op die dorp aan te bied. Oudtshoorn en sy inwoners is julle groot dank verskuldig!