Deur Liesel le Roux
DIE ekonomiese inspuiting wat groot sportgeleenthede soos die afgelope naweek se Attakwas Bergfietsmara-thon en die SA Padfiets- en Naelrit-kampioenskap vroeg in Februarie vir Oudtshoorn meebring, kan nie onderskat word nie.
Die bergfietsren, wat by Oudts-hoorn begin en by Groot Brakrivier eindig, het in 2017 na raming meer as 3800 mense – die deelnemers en hul familie, vriende en ondersteuners – na Oudtshoorn gelok. Hulle het volgens opnames wat gemaak is na raming meer as R6miljoen op Oudtshoorn bestee aan verblyf, etes, brandstof en besoeke aan toerisme-attraksies. Vanjaar was daar sowat 200 deelnemers meer as verlede jaar.
Die Attakwas word deur Dryland Event Management, ’n besigheid wat op Oudtshoorn gesetel is, aangebied. Dryland bied ook die multiskof Cape Pioneer Trek-bergfietsren en die 36ONE MTB Challenge aan wat albei baie besoekers na Oudtshoorn lok.
Volgens die Oudtshoorn munisipa-liteit gaan die SA Fietsry- en Naelritbyeenkoms, wat van 6 tot 11 Februarie op Oudtshoorn plaasvind, die dorp se ekonomie na raming ’n hupstoot van tussen R10miljoen en R15mil-joen gee danksy sowat 5000 mense wat die dorp kom besoek.
Volgens Corné Bence, president van Eden Fietsry sowel as die Wes-Kaapse Fietsryvereniging, is die kampioenskap aan Oudtshoorn toegeken danksy die vereniging se prestasies en organisatoriese vermoë.
Volgende naweek (3 Februarie) vind die groot interprovinsiale twee-kamptoernooi op Oudtshoorn plaas.
Dan is daar jaarliks groot rolbal-toernooie, die SA Baldanskampioenskap, groot skolesportbyeenkomste, ens, ens ens wat baie besoekers na die dorp lok.
Die Hoorn het verlede jaar ’n berig gepubliseer waarin Dirk van der Westhuizen – wat elke jaar met sy span die Klein Karoo Kampioenskap op die Arnold de Jager Ovaalbaan aanbied – vertel het in watter mate die dorp by sulke groot sportbyeenkomste baat vind. Lees dit gerus by diehoorn.com/ gemeenskap/byeenkoms-bring-groot-geld-na-dorp/.
Niel Els, president van Skål SA en toerismeleier op Oudtshoorn, bevestig dat sporttoerisme ’n reuse-bydrae tot die Klein Karoo se ekonomie lewer.