Sms’e van lesers

■ Vanoggend lyk Hoogstraat in Noord weer soos die Tiep. Wanneer sal mense leer om nie hul vullis die vorige dag voor verwydering op straat uit te sit nie? Stop dit asseblief! Die strate in die middedorp is net so morsig. Die ou Boland Bank-arkade, die deurgang langs OK-meubels en die straat voor die Departement van Mannekrag is so morsig dat ’n mens nie eers daar wil loop nie. Geen wonder dat mense eerder hul inkopies in George gaan doen nie, want jy kyk nie teen gemors vas waar jy beweeg nie. Die Oudts-hoorn Munisipaliteit moet asseblief werklose mense aanstel om ons strate skoon te maak; dan sal daar minder inbrake wees. Maak ook ’n plan met die sakkrappers en straat­kinders wat ons lewens bedreig. Ons word elke dag gedreig as ons nie vir mense geld wil gee nie. Hul wag jou buite inkopiesentrums en winkels in om jou te dreig. Ons ouer mense voel nie veilig nie. Dinge sal moet verander. Oudtshoorn gaan agteruit. Engee

■ In verband met die Oudtshoorn Munisipaliteit waaroor daar so baie klagtes is, wil ek net die volgende noem: Ek het vandag die munisipaliteit gebel oor ’n waterlek aan hulle kant by ’n kompleks op Oudtshoorn. Baie vinnig was hier twee baie vriendelike, kundige mense wat omgee om probleme op te los. Welgedaan en baie dankie. Met sulke mense is daar lig in daai donker tonnel. Francois du Plessis

■ So dankbaar vir die opgradering van die paaie om Oudtshoorn. Dit gaan baie vir die dorp en streek en toerisme beteken as daardie paaie klaar is. Welgedaan!

■ Die bergskilpad is Dinsdag afgeneem waar dit tydens die huidige droogte by ’n huis in Oudts­hoorn-Noord uit ’n hol klip water drink. Die skilpad loop gereeld oor twee strate om water by die huis te drink en daarom is die klip altyd vol water. Ry asseblief versigtig as jy ’n skilpad die pad sien kruis!

■ Wees versigtig vir karre van voor na die stopry-punte op die paaie om Oudts­hoorn wat gebou word. Daar is gereeld karre wat van voor op die enkelbaan kom.