Deur Liesel le Roux
DIE wyse waarop Oudtshoorn se ingang vanaf Dysselsdorp en De Rust, die slagoffer geword het van rommel, is iets wat geen inwoner onaangeraak kan laat nie.
Nie net het dit die ingang van skaamte vir inwoners geword nie, maar is daar klaarblyklik ook nie ’n plan, of die kundigheid, of die hande, of die toerusting om die ingang te probeer red van plastieksakke en ander gemors wat daar rondwaai nie.
Goedbedoelde pogings van inwo-ners en die munisipaliteit om skoonmaakdae en -projekte te loods om die ingang skoon te maak, het na harde werk steeds bykans geen sigbare verskil gemaak nie. Die probleem is groter en het ’n ander aanslag nodig.
Op ’n onlangse reis tussen Oudtshoorn en Gauteng was dit duidelik dat daar dorpe en stede is waar ingange en paaie nie omsoom word met rommel nie.
Die silwerskoon woonbuurte was uiteenlopend: party welgesteld, ander eenvoudig, party munisipale woonprojekte, ander piepklein sinkhuisies. Veral in Gauteng was daar nie rommel langs die paaie nie.
Dit kan dus gedoen word. Oudtshoorn se ingang van skaamte hoef nie te verdrink in rommel nie. Oudtshoorniete hoef nie skaam te wees nie.
Net by Hannover en Beaufort-Wes was dele waar rommel langs die pad gelê het tot bykans dieselfde mate as by Oudtshoorn se ingang vanaf De Rust/Dysselsdorp. Maar net bykans. Oudtshoorn se ingang van skaamte wen die kompetisie van die vuilste gebied langs die pad.
Daar is egter hoop. En iewers op hierdie dorp moet iemand wees met kennis, met ’n werkbare plan. Want elders is al so ’n plan gemaak.