Deur Liesel le Roux
Daar is al meermale gesê dat ’n Derde Wêreldoorlog nie as gevolg van beleidsverskille of ander spanning sal uitbreek nie, maar veel eerder as gevolg van die skaarsheid van water.
Die huidige droogte in baie dele van die land – en ook hier by ons in die Klein Karoo – het voorwaar mense se oë oopgemaak vir hoe ’n wêreld sonder water kan lyk. Dit het die meeste van ons waarskynlik laat besef watter belangrike wapen water is.
Tonele wat gewoonlik net in apokaliptiese rolprente gesien word, raak al hoe meer algemeen – ’n omgewing vernietig deur vuur (ry maar net oor die Outeniquapas), rook wat die blou lug wegsteek, en mense wat toustaan vir water – in supermarkte en by ander waterpunte om houers vol water te maak
In die Groter Oudtshoorn waar inwoners tans bars om die verhoogde watertariewe te betaal, verskeie oortreders al R1 000-boetes opgelê is en baie die laaste tyd moes toekyk hoe hul tuine kwyn en gras en plante uitdroog en vrek, is water en die besparing daarvan inderdaad tans ’n sensitiewe aangeleentheid.
En daarom is kommunikasie oor wateraangeleenthede met inwoners hier so belangrik – iets waarvan ons munisipale amptenare en raadslede asseblief kennis moet neem.
Die afgelope week is begin om swembaddens in die Groter Oudtshoorn vol te maak sonder vooraf kommunikasie daaroor met inwoners. Dit het gelei tot ontevredenheid, kritiek, vrae en beskuldigings – op Facebook, op selfoonboodskappe wat ons ontvang het, in gesprekke.
Inwoners is nie oningelig oor die waterbeperkings en droogteregulasies nie. Hulle weet dat die raad in Oktober besluit het dat munisipale swembaddens nie gevul sal word as gevolg van die huidige droogte nie, en het onmiddellik met ontsteltenis gereageer toe hulle sien dat swembaddens ten spyte van dié raadsbesluit vol water getap word.
Die munisipaliteit het gistermiddag ’n persverklaring uitgereik waarin hulle die situasie rondom die swembaddens en ander waterkwessies verduidelik. Indien daar gewag is met die volmaak van die swembaddens totdat daar so met inwoners gekommunikeer is, sou daar waarskynlik minder kritiek en meer begrip gewees het.
Kommunikasie is ’n waardevolle probleemoplosser. In die woorde van ’n merkwaardige jong vrou, Malala Yousafzai van Pakistan wat op 17 jaar die jongste Nobelpryswenner ooit geword het: “Die beste manier om probleme op te los en teen oorlog te veg, is deur dialoog.”