Deur Liesel le Roux
Die Hoorn as lid van die Oudtshoorn Besigheidskamer ondersteun die inisiatief van die Besigheidskamer waarin besighede gevra word om daadwerklik betrokke te raak by projekte wat die opbou en vooruitgang van Oudtshoorn ten doel het.
Ons wil lede van die Besigheidskamer aanmoedig om betrokke te raak by ’n projek waar hulle glo hul ’n bydrae kan lewer. Ons wil ook besighede wat nie lede is nie, aanmoedig om by die Besigheidskamer aan te sluit en ook betrokke te raak. Hier is ’n geleentheid vir almal in besigheid om nie hierdie keer te vra: “Wat kan die Besigheidskamer vir my beteken?” nie, maar: “Wat kan ek vir my dorp en sy mense beteken?”.
Die Hoorn het reeds betrokke geraak by die projek “Ek is Oudtshoorn” en het die inisiatief geneem om vanjaar ’n reeks berigte oor inwoners van die dorp te dra onder die titel “Daarom woon ek op Oudtshoorn”. Ons eerste berig verskyn volgende week, en ons sien uit om met ons dorp se interessante mense te praat en te hoor wat hulle te sê het oor waarom hulle die keuse gemaak het om hier te woon.