Deur Liesel le Roux
Toerisme is een van die grootste werk- en inkomsteskeppers in Oudtshoorn, soos in die res van die Klein Karoo en Suid-Kaap. Daar is baie statistiek om dit te staaf.
Die droogte bring egter uitdagings vir toerisme – net soos in die landbousektor. Dié sektore sal moet aanpas, innoverend dink en slim werk om voort te bestaan en steeds ’n inkomste vir duisende mense te skep. En dit is heeltemal moontlik.
Sporttoerisme is ’n suksesvolle been van toerisme en bied ’n reuse- ekonomiese inspuiting vir die dorp. Lees gerus die berig by diehoorn. com/gemeenskap/byeenkoms-bring-groot-geld-na-dorp/ as jy wil weet hoeveel werk net een so ’n geleentheid skep.
In die lig hiervan is die ingryping van die Wes-Kaapse regering en privaatsektor om water van buite te bring om die NA Smit Swembad te vul sodat die jaarlikse swemgalas steeds kan plaasvind, iets waarvoor inwoners dankbaar kan wees.
Maar soos altyd is daar ’n groepie wat dié inisiatief vanuit die veiligheid van hul huise kritiseer en selfs die mense wat inisiatiewe soos dié neem, lelike en selfs lasterlike name noem. Van die kritici meen jy kan Oudtshoorn se watervoorrraad “beskerm” deur besoekers en toeriste uit die dorp te hou.
Dié siening is oningelig en die realiteit die volgende: As Oudtshoorn ophou om sportbyeenkomste, feeste ens aan te bied – soos die swemgalas – sal ander dorpe of stede dit opraap, die ekonomiese vrugte daarvan pluk en alles doen om dit te behou.
Oudtshoorn sal gou die pyn hiervan ervaar wanneer werk opdroog, en besighede en toerismeplekke sluit en mense verder verarm.
Kaapstad het met die hulp van inwoners wat aggressief water gespaar het, nie toeriste weggewys nie. Hopelik sal Oudtshoorn nooit sulke kortsigtige besluite neem nie.
Inwoners kan eerder saamstaan en planne maak om die toerismesektor te laat gedy in ’n waterskaars dorp. Dink innoverend (soos die karwasbesigheid wat nou 80 persent van sy water hersirkuleer)!