Liesel le Roux
Die inisiatief van die Oudtshoorn Munisipaliteit om saam met inwo-ners van die dorp die verfraaiing van die dorp se ingange en middelmanne aan te pak, is van die beste nuus in jare.
Daar is baie kundigheid én gewilligheid onder inwoners oor hoe om op ’n waterwyse manier te verfraai. Dié samewerking kan net vrugte af-werp.
Dié redakteursbrief word geskryf voor ’n inligtingsvergadering gisteraand (Woensdag) vir inwoners oor die inisiatief. Hierdie is dus net ’n paar gedagtes oor die verfraaiing van ’n warm Karoodorp.
Oor die jare het talle inwoners – ook in lesersbriewe aan Die Hoorn – voorgestel dat die middelmanne in die strate eerder met aalwyne en klippe versier moet word en nie met dorstige gras en roosbome nie. Die huidige droogte bewys dat almal wat hiervoor gevra het, reg was omdat die roosbome een na die ander in die huidige droogte vrek. Hoeveel beter sou die middelmanne nie met waterwyse plante en klippe gelyk het nie…
Een van die positiewe gevolge van die huidige droogte is dat inwoners van die Klein Karoo al hoe meer anders begin dink oor tuinmaak.
Tien uit tien aan almal wat waterwys (begin) tuinmaak. Daar is immers plante soos spekboom en aal- wyne en malvas en wonderlike vetplante wat beter en makliker in dié warm droë wêreld vasbyt en groei.
Dieselfde kan nou – danksy die nuwe inisiatief – by die dorpsingange en elders gebeur.
En ja, dankie aan die geesdriftiges en kreatiewes wat wil hê hul dorp moet goed lyk. Ons hoor van baie wat blink idees het, en van ander wat al klaar begin mooi maak het.
Oor die kla- en kermkouse en kortsigtiges wat die week gekla het dat die verfraaiing van die dorp “die munisipaliteit” se werk is, kan ’n mens net kop skud. Om te dink daar is mense wat nie die verfraaiing van hul dorp steun nie. Aan hulle die volgende goeie nuus: Julle hoef regtig niks te doen nie. Terwyl Oudtshoorn verbrand, is daar wel goeie mense wat ’n verskil wil maak.