Japie Coetzee nuwe leier by Relay for Life

Japie Coetzee, nuwe voorsitter van Relay for Life Oudtshoorn. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
ONDER die wakende oog van die oud-raadslid en bekende Oudtshoorniet Japie Coetzee, beloof vanjaar se Relay for Life om ’n groot sukses te wees.

Coetzee is pas aangestel as die nuwe voorsitter vir Relay for Life, Oudtshoorn.

Dié jaarlikse instelling vind vanjaar op 9 en 10 Maart op die De Jager Sportstadion plaas, vanaf 16:00 die middag tot 06:00 die volgende oggend.

Inskrywingsgeld beloop R700 per span wat uit tussen 10 en 15 lede moet bestaan.
Individuele inskrywings kan ook gedoen word teen R70 per volwassenes en R40 vir kinders.

Dagbesoekers kan teen R40 ’n toegangskaartjie koop wat hulle tot 22:00 toegang tot die Relay for Life-terrein verleen.

Coetzee sê vanjaar se tema is “Sonslim” en deelnemers word aangemoedig om die tema op ’n krea­tiewe manier uit te beeld.

“Ek is opgewonde oor die uitdaging. Ons hoofdoel met hierdie byeenkoms is om fondse vir Kansa in te samel; nie net deur die Relay nie, maar om ook fondse regdeur die jaar in te samel.”

Coetzee vertel hy het as “kankeroorwinnaar’ werklik ’n passie vir kankerbewusmaking en die insameling van fondse vir Kansa. Hy is in 2001 met prostaatkanker gediagnoseer, maar is nou heeltemal gesond.

“Ek wil graag mense ondersteun, oorwinnaars, diegene wat daarmee leef asook mense in die gemeenskap wat geliefdes aan kanker verloor het,” sê hy.

Persone wat graag betrokke wil raak by vanjaar se Relay for Life of stalletjies by die geleentheid wil bedryf, kan Coetzee skakel by sel 082 598 7273.