Deur Liesel le Roux
Die Hoorn het die laaste tyd verskeie oproepe ontvang asook ’n sms waarin ons versoek word om met mense betrokke by hofsake te praat en “hulle kant van die saak” te publiseer voordat die hofsaak afgehandel is.
Ons kan dit nie doen nie, want dit sal neerkom op inmenging in die regsproses. ’n Koerant kan nie wild en wakker tydens ’n hofsaak begin om onderhoude te voer met verdag-tes, beskuldigdes of getuies wat by die hofsaak betrokke is en dit wat gesê word publiseer nie. Dit kom op minagting van die hof neer.
Vir regspleging om behoorlik te geskied, is die kundigheid van ’n landdros, staatsaanklaer en regsverteenwoordigers nodig, sonder inagneming van ongetoetse getuienis wat buite die hofsaal in die openbare domein geplaas word.
Omdat ’n hofsaal ’n openbare ruimte is en die publiek in elk geval hofsake kan bywoon, lewer ons egter verslag oor hofsake – wie is die beskuldigdes, waarvan word hulle aan-gekla, hoe pleit hulle, wat word getuig, wat is die uitspraak, vonnis, ens.
Met beriggewing oor ’n hofsaak lig ons nie net ons lesers in oor die saak nie, maar kan hulle ook lees wat met misdadigers gebeur. Vonnisse dien ook as afskrikmiddel en dra daartoe by dat die publiek sien reg geskied.
En ons verstaan dat hofsake en die beriggewing daaroor groot spanning by betrokkenes meebring, veral om-dat sulke sake dikwels sloer, soms jare lank. Ná afloop van ’n hofsaak kan in sekere omstandighede kommentaar van betrokkenes geplaas word indien hulle die geleentheid sou wou gebruik.
Onskuldig tot skuldig bevind
Terwyl hofsake ter sprake is, is dit ook belangrik om te onthou dat geen persoon in ons regstelsel skuldig is totdat hy of sy in ’n hof skuldig bevind word nie.
Laat ons dus mekaar se regte en die regsplegingproses respekteer.