GPF vra: Kom asb Covid-regulasies na
DIE Oudtshoorn Gemeenskaps- polisiëringsforum (GPF) doen ’n beroep op alle inwoners van die Groter Oudtshoorn om alle Covid-regulasies te eerbiedig en nie onnodiglik uself en ander bloot te stel nie.
Ons merk op dat groot getalle jongmense op die strate, by bushaltes en spazawinkels uithang sonder die dra van maskers en met geen handhawing van sosiale afstand nie. Dis vir ons onrusbarend om die blatante ongeërgde houding van sommige mense ten opsigte van die vlak 4-regulasies waar te neem.
Ons versoek alle huishoudings om toe te sien dat u huisgenote nie onnodig rondbeweeg nie, dat jongmense indien hulle die huis verlaat maskers op het en sosiale afstand handhaaf, en nie in groepe op straathoeke uithang nie.
Vermy die onwettige samekomste deur die dag en in die middernagtelike ure. Die Delta-variant maak siek en dood.
Indien u onverskillig optree, versoek ons u om gerus aan die gesondheid van u geliefdes te dink. Te veel mense beweeg nog na 21:00 op straat – onthou indien u deur die SAPD gekonfronteer gaan word, sal u beslis ’n kriminele rekord hê op skuldigbevinding. Dit beteken dat u weliswaar moeilik ’n werk gaan bekom in die toekoms.
Geen sport word op vlak 4 toegelaat nie. Ouers sien ook asseblief toe dat u voorskoolse en laerskoolkinders veilig is, en weet waar hulle hulself bevind en wees ten alle tye waaksaam. Moenie dat hulle met vreemdelinge geselsies aanknoop nie.
Ons moedig graag diegene tussen die ouderdom van 50 en 60 jaar oud aan om te registreer vir die entstof en by die Toekomsrus Gemeenskapsaal aan te meld.
Die Oudtshoorn GPF wens alle huishoudings wat familielede aan die dood afgestaan het vanweë Covid-komplikasies alle sterkte toe, en mag hulle vrede en berusting vind in die Allerhoogste.
Laat ons almal verantwoordelik optree.
– Patrick W Blaauw, GPF-voorsitter, Oudtshoorn