Terwyl die Oudtshoorn Munisipaliteit die skuld kry vir baie dinge wat in die dorp wat verkeerd is, gereeld ten regte, het die inwoners ook ’n plig om te sorg dat dinge reg gedoen word.
In Parkweg-Suid word ’n oop stuk grond skielik gebuik as ’n stortingsterrein vir bourommel.
Dit word gedoen deur inwoners van Wesbank, want niemand sal deur die dorp ry om ’n vrag rommel hier te kom stort nie.
Dit is skandalig, en ek vertrou dat die skuldige sal skaam word, en die gemors gaan opruim.
Die vullisdrom by die parkie in Luscombestraat wat bedoel is vir die papiere, ens wat in die parkie gelos word, word deur een van die inwoners gebruik vir huishoudelike afval (foto bo).
Waarom, Meneer of Mevrou, gebruik jy nie die vullisverwyderingsgeriewe wat weekliks deur die munisipaliteit daargestel word vir die verwydering van jou huishoudelike vullis nie?
Ons kan eenvoudig nie mors en verwag dat die plaaslike owerheid dan moet gaan opruim nie.
So lank hierdie mentaliteit by inwoners wat van beter behoort te weet heers, sal ons nie die gesig van Oudtshoorn herstel kry nie.
– D Haasbroek, Oudtshoorn