In die Klein Karoo hoop almal en vra: Gaan dit reën die naweek?

Liesel le Roux

IN die Klein Karoo is die huidige vernietigende droogte deesdae almal se skaduwee.
Jy kan nêrens gaan sonder om daarvan bewus te wees nie, of sonder om dit te sien of daarvan te weet nie.

En saam met dit gaan die hoop dat die reën binnekort sal kom; veral as jy hoor hoe dit tans in die noorde van die land sous.

Volgens verskeie weerdienste is daar die naweek ’n goeie kans op reën.

Vir party dele van die Klein Karoo word heelwat meer reën as vir ander dele voorspel.

Maar dié voorspellings verander ook maar van uur tot uur en van dag tot dag.

Die Klein Karoo is droog. Dié mooi wêreld is besig om voor die oë van sy inwoners te verander in ’n woestyn van dooie gras, bossies en stof.

En almal word deur hierdie droogte geraak. Nie net die boere en diegene wat van die landbou afhanklik is vir ’n werk en ’n lewe nie, maar deur elke inwoner van ook die dorpe in die streek.

Almal voel die uitwerking van hoër watertariewe en waterbeper­-kings aan die bas.

Die week het verskeie inwoners vertel van die rysmiere wat hulle oral sien en wat baie aktief is – klaarblyklik ’n teken van reën wat op pad is.

Ons oë is op die wolke.