Die spesiale Klein Karoo

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Dit is somervakansie in Suid-Afrika en soos elke jaar sal die Klein Karoo die volgende drie weke weer druk besoek word deur besoekers van oral uit Suid-Afrika.

Die Klein Karoo het ’n aantal ju­we­le wat dié streek spesiaal maak.

Een daarvan is die vriendelikheid en gasvryheid van sy inwoners. Dit is niks vreemd in die dorpe in dié streek dat wildvreemdes mekaar vriendelik op straat groet nie, en besoekers wat oorbly met groot gasvryheid ontvang nie.

Dit is die streek waar die weer en omgewing jou altyd sal verras – waar die Swartberge in die winter soms wit lê van die sneeu en waar die kraaie in die somer gaap op dae wat die kwik tot bo 40 grade Celsius styg.

Dit is die streek met toerismejuwele soos die Kango Grotte, volstruisplase, die uitsigte van die Swartbergpas en Meiringspoort en veldblomme in die lente.

Dit is die streek van verskeidenheid.

Dit bied besoekers ook wildplase, uitstappies waar meerkatte in hul na­­-tuur­like omgewing waargeneem kan word, jy saam met olifante kan stap, op ’n kameel kan ry, jagluiperds kan streel, sterrekyk-aande, ’n zip­line waar­mee jy vanaf die Kango Grotte na die Cango Caves Estate kan gly, en­sovoorts, ensovoorts…
Dit is ook die streek waar daar lekker geëet en gedrink kan word. Die spesiale produkte van die streek – kaas uit die Klein Karoo, volstruisvleis, olywe, appelkose en wonderlike wy­ne, brandewyn en deesdae selfs gin – maak die Klein Karoo ’n paradys vir ’n lekkerbek. Boonop spog die streek met ’n ver­skeidenheid baie goeie res­tau­rante wat iets vir elke sak en smaak bied.

• Vir meer inligting kontak Oudts­hoorn De Rust Toerisme by info@ oudtshoorn.com / 044 279 2532 / www.oudtshoorn.com