Briewe van lesers: 7 September 2023

Burgemeester systap vullisverwyderingstariewe

Ek reageer graag op die Burgemeester se reaksie op die swartsak protes. Ongelukkig het mnr McPherson die verhoogde tariewe van vullisverwydering in die dorp gesystap en geswyg oor dit wat ons as inwoners ontstel. 66% Verhoging in vullisverwydering! Onaanvaarbaar!

Ek is bewus van ’n instansie waarvan die tarief vir vullisverwydering R10 000 (afgerond) in ’n maand was. Na die reuseverhoging is dit nou R16 670 per maand. Die diens het dieselfde gebly, nl vier keer per maand. Die vraag is of die Raad hierdie verhoging op ’n vergadering goedgekeur het en dit by die inligtingsessies bespreek is. Volgens die inligting wat ek betroubaar bekom het, is die genoemde prosedure nie gevolg nie. Wat nou?

Ek sal dit waardeer as die Burgemeester vir ons as inwoners volledige antwoorde oor die vullisverwyderingstariewe en die prosedures wat gevolg is, kan verskaf. Asook die datum van die Raadsvergadering waar hierdie besluit geneem is en die notule van die vergadering op aanvraag beskikbaar sal stel. Baie dankie dat u ons as inwoners en ondersteuners van die DA sal inlig oor hierdie onaanvaarbare finansiële las wat die Raad op ons almal geplaas het.
– Anoniem

Munisipale tariewe

Dit is ’n gemene saak dat ’n groot meerderheid van ons belastingbetalers ontevrede is oor die strawwe verhogings. Sommige belastingbetalers kan net nie meer die verhogings bekostig nie en word uit hul eiendom belas. Om skielik te vind dat jou Munisipale rekening tussen R400 en R700 per maand verhoog het, is ernstig. Dan lui die Burgemeesgter se verduideliking, (1) dat dit Wetgewing is dat die boeke moet klop en (2) dat belastingbetalers die geleentheid gehad het om by die GOP vergadering, beswaar te maak.Wat (1) betref moes Raadslede reeds gekyk het na personeelaflegging.

Talle voorbeelde is al in die verlede genoem waar munisipale werkers nutteloos aangewend word. Daar is geloofwaardige bewyse hoedat wer-kers by ’n punt op daag met 7 – 9 werkers in die span warvan net 2 of 3 werk. En belastingbetalers moet vir hierdie onproduktiwiteit betaal.

Verder word genoem van deernisgevalle. Belas-tingbetalers betaal reeds vir SARS belasting waar uit vir toelaes betaal word. Ek lees dat 50% van Oudtshoorn se inwoners is deernis gevalle waarvoor voorsiening in die begroting gemaak is. Hoe kan verwag word dat 50% van belastingbetalers hierdie uitgawe moet finansier. Die ironie is dat baie van hierdie deernistoelae deur drankmisbruik, selfone, DSTV-skottels, sigarette ens. wanbestee word.

Besef die Raad dat baie staatsdienspensioenarisse nou ook deur verhoogde belasting deernis- gevalle geword het. Wat (2) GOP betref: hierdie vergaderings het ek baie jare bygewoon.

Voorstelle van die vloer word konsuis genotuleer, maar aan die einde van die dag is dit geïgnoreer en neem die Raad sy eie besluite. Daarom dat bywoning en belangstelling gekwyn het. Dit is nog nie te laat om na die werknemers se getalsterkte ondersoek te doen en regstellings aan te bring nie. Dit is ook duidelik dat toesighouding oor werkers glad nie bestaan nie. Laastens, die Burgemeester beweer dat die tariewe nou Wetgewing is wat nie omgekeer kan word nie. Ek stem nie hiermee saam nie.
– Bart Vosloo

Die uitvoerende burgemeester reageer as volg op die briewe van Anoniem en Bart Vosloo:

Die afgelope aantal weke is verskeie verklarings tov tariefverhogings op die munisipaliteit se sosiale media sowel as in die plaaslike media geplaas. Die meeste van die kwessies wat meneer Vosloo opper, is reeds op een of ander platform of vergadering met inwoners bespreek. Ter opsomming die volgende: Dit is belangrik om te weet dat ’n munisipale begroting volgens streng voorskrifte van Nasionale Tesourie opgestel word en dat die volle tariewelys aan die raad voorgelê was vir goedkeuring. Dit is ’n proses wat volgens wetgewing op alle munisipaliteite van toepassing is.

Wat vullistariewe aanbetref het die munisipaliteit vanjaar geen ander keuse gehad as om die tariewe so aan te pas dat ’n volle kosteverhaling van die diens toegepas moes word nie. Die voorbeeld van Anoniem van een instansie wat nou R6 000 per maand meer betaal vir vier verwyderings per maand is nie duidelik nie. Indien die briefskrywer hier na ’n aftreeoord of ’n woonkompleks verwys is dit nie een instansie nie aangesien elke huishouding verantwoordelik is vir die koste van die huishouding se eie vullisverwydering.

Anoniem se vraag oor die datum waarop die tariewe vir vullisverwydering deur die raad goedgekeur is en ook die toepaslike notule is waarskynlik gebaseer op waninligting aangesien die vullistariewe deel was van die volledige tariewelys wat op 29 Mei deur die volle raad goedgekeur is.

Tariefverhogings verskil van munisipaliteit tot munisipaliteit en kan nie direk vergelyk word nie omdat elke dorp se bevolking en eiendomswaardasie verskil en daar ’n groot aantal faktore is wat elke dorp se tariefstruktuur uniek maak.

’n Lys van verskillende dorpe se tariewe is ook onlangs as voorbeeld hiervan in die media geplaas.