Briewe van lesers

KKNK 2022: Dit was so lekker om weer ’n slag te fees!

Ek was bevoorreg om vanaf 1995 deel te kon hê aan die KKNK. Ek wil die feeskomitee gelukwens met die puik KKNK wat hulle binne twee maande gereël het. Dit was so lekker om weer ’n slag te fees!

Ek het weer na Amanda Strydom kon luister en wat ’n vertoning – soveel nostalgie en vertelkuns ingevleg met sang en puik klavier- en tjellobegeleiding.

Ek was ook by Coenie en André Schwartz se interessante gesprekaanbieding. André het te midde van te­rug­slae die gehoor op hulle voete gehad met veral sy Phantom of the Opera-aria. Coenie was soos altyd ’n meester op die klavier en sy As dit reën in die Klein Karoo was ’n treffer. Bravo vir ons eie sangers, kunstenaars en akteurs in Suid-Afrika!
– MP in Millpark, Oudtshoorn

Steun vir die vernoeming van ’n straat na Piedt

Ek lees in u uitgawe van 7 April dat daar ’n straat na David Piedt vernoem moet word en ek steun dit van harte. Sy bydrae tot Oudtshoorn verdien dit.

Ons twee het saam grootgeword in Oudtshoorn tydens apartheid. Ons het mekaar as mense gerespekteer en kon vir jare daarna sinvol gesels (en verskil) oor sekere dinge, sonder om van ons verskille geskille te maak.

Hy was ’n kampvegter vir die bruinmense, net soos ek ’n kampvegter was vir die witmense, maar nie een van ons was te blind om nie te kan sien dat dit ’n lang tydperk gaan neem om die haat en bitterheid te laat verdwyn nie. Inteendeel, dit het tot vandag toe nog nie verdwyn nie, soos mnr Edward Jackson duidelik aantoon in ’n huldeblyk aan David, toe hy die stelling maak dat “dit vandag alles gaan oor wit en swart in Suid-Afrika”. Dit was onnodig, mnr Jackson, want dit klink asof u die agterspeensuigers se probleem voor die witmense se deur wil lê. Dit is mos nie meer so na 25 jaar van ’n nuwe demo­krasie nie.

Ten opsigte van sy verdere stelling dat “78% van Oudtshoorn se inwoners bruinmense is, maar hulle suig nog steeds aan die agterspeen van die dorp se ekonomie”, is hy bewus van die volgende:

  1. 90% van die Oudtshoorn Munisipaliteit se senior werknemers is bruinmense?
  2. Gesprekke kom al jare aan en ver­-anderings wat gemaak is om die vrede te bewaar was vrugteloos, weens die witmense wat in elk geval uit feitlik al die senior poste verwyder word. Kyk nou maar na Eskom.
  3. As jy aan die voorspeen wil drink, moet jy bereid wees om hard te werk en die keiser betaal wat hom toekom. Weet hy hoeveel rand is uitstaande in ons “bruin gebied” vir elektrisiteit?
  4. Hoeveel bruinmense het al besig­hede begin in Oudtshoorn waar witmense aangestel is? As hy voorbeelde het, sal ek dit graag wil weet.
  5. Een van die grootste probleme in die wêreld is oorbevolking. Dit beteken dat daar te veel kinders gebore word waarvan die ouers nie in staat is om hulle te versorg nie.

    Geboortebeperking is dringend no­dig. Maar wat dan van die toelaes wat die jongmense kry? Dink maar hoe gaan ons dit aanspreek.

    Ek kan nog baie voorbeelde noem, maar ek sal dit regtig waardeer as mnr Jackson in Die Hoorn kan aandui wat hy bedoel met “suig aan die agterspeen” en hoe hy dink die agterspeensuiging stopgesit kan word. Dit is daarom dat 78% van Oudtshoorn se inwoners die meerderheid stemme het in verkiesings en ook die oorsaak is dat die Oudtshoorn-stadsraad nie behoorlik kan funksioneer nie.

    Daar is ’n gesegde wat sê: Talk is cheap, but money buys the whisky. Moenie David Piedt se nalatenskap bevlek en besoedel met ’n wit en swart argument nie. Hy was bo dit verhewe.
    – Johan Wagener, Oudtshoorn

Verbeter eerder infrastruktuur as naamverandering

Die berig in Die Hoorn van 7 April, Vernoem straat na David Piedt, verwys.
Hierdie versoek deur dr Franklin Sonn tydens die David Piedt-gedenk­lesing, is nogal ’n mondvol deur ’n nie-inwoner van Oudtshoorn. Dr Sonn sê onder andere dat dit vir hom pynlik en nie reg is nie dat feitlik elke straat en gebou in ’n bevryde Suid-Afrika steeds die ou name van mense dra … sy woor­de. Wat hy daarmee bedoel, weet ek nie.

In elk geval, wat is in ’n naam?

Ses Oos-Kaapse stede/dorpe waarvan ek weet, het naamsverandering ondergaan, sekerlik ook straatname. In elk van die plekke het die omstandighede van inwoners verswak ten opsigte van dienslewering en infrasruktuur.

Ag nee, dr Sonn, die eerste David Piedt-gedenklesing is nou aangebied, waarom dit nie jaarliks in Oudtshoorn aanbied nie? Die koste van naamsverandering kan eerder gebruik word om Oudtshoorn se infrastruktuur te help verbeter en te vergroot sodat ons dorp meer toeriste kan lok wat weer sakeondernemings ondersteun en dalk werk­skepping bevorder, waarby alle inwo­ners van Oudtshoorn baat sal vind.
– SP Jonker, Oudtshoorn

Metershoë onkruid in voormalige Dorp van die Jaar

So hartseer!

De Rust was nie te lank terug nie Dorp van die Jaar! Nou as mens deur die dorp ry, sien jy onkruid orals wat meters hoog staan?

Ek probeer al van November 2021 by ons raadslid en munisipaliteit uitvind hoekom? Niks!?

Hoe langer die munisipaliteit vat om op te tree, hoe groter word die pro­bleem.

Selfs Oudtshoorn, een van die mooi­ste dorpies verval en gaan gebukkend, verswelg in onkruid?

Hoekom?
– Betsie Britz, De Rust