Briewe van lesers

Onverdraagsame polisiebeampte

Op Maandag 22 Februarie 2021 omstreeks 14:20 wou ek dokumente by die Bridgton Polisiekantoor laat sertifiseer en wou ook graag ’n werkloosheidverklaring hê. Ek en my vrou het ons egter vinnig vasgeloop teen ’n erg onvriendelike polisiebeampte.

Nadat die dokumente gesertifiseer is en die verklaring uitgeskryf moes word, het die polisieman in ’n erge woedebui uitgebars en al die dokumente van die toonbank af geklap en op die vloer laat val. Hy het vir my gesê om te voetsek en te f***f. Hy het geweier om die verklaring uit te skryf, uitgestap agter die toonbank sonder ’n masker, voor my kom staan en verskriklik op my geskree. (Die man word toegelaat om sonder ’n masker met onskuldige bur­-gers te raas en op hulle te vloek, terwyl kerkgangers met maskers belet word om net effens te hard te sing).

Die man was blatant onbeskof en aggressief. Hy het die f-woord gereeld gebruik sonder respek vir my vrou, wat as gevolg van my blindheid altyd aan my sy moet wees. My vrou was baie ge­skok en vreesbevange vir die polisieman wat veronderstel is om te beskerm, se optrede.

Ek het die polisiekantoor in Baron van Reedestraat geskakel om met die stasiebevelvoerder te praat toe ’n baie vriendelike blanke dame my baie van hulp was.

Sy het my belowe dat iemand my sou terugskakel (wat nie gebeur het nie), maar daar het wel ’n baie vriendelike blanke polisieman die verklaring by my huis kom skryf en oorhandig.

Ek kry egter die gevoel dat hierdie saak nou beskou word as afgehandel, wat volgens my glad nie die geval is nie. Die polisieman by die Bridgton Polisiestasie is beide ek en my vrou ’n verskoning verskuldig en behoort vir sy optrede gestraf te word.

  • Raymond B le Roux, Oudtshoorn
    (Die Oudtshoorn Polisie het aangedui dat aandag aan die saak geskenk word. – Redakteur)

Staking van vulliswerkers

Kan ek asseblief ’n antwoord in Die Hoorn kry op die volgende vraag: Word die stakers betaal as hulle nie werk nie?

Indien wel, om welke rede? Dit beteken dat sou hulle betaal word, belastingbetalers nou dubbeld betaal.”

  • Johan Wagener, Oudtshoorn
    (Die brief is aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur vir reaksie. – Redakteur)