Briewe van lesers


Depressietronk

ek is lelik
ek wonder of
jy weet dat dit

nie maklik is om
saam met negatiewe
gedagtes rond te
loop met ’n glimlag
op jou gesig om

al die vrae
te vermy en omdat
jy dink dat jy gewoond
is aan seerkry

jy twyfel in jouself
selfmoordgedagtes
kom kuier elke keer
vir jou en weier om
jou in vrede te los

ai my kind

jou mense sien die
letsels en dink hoekom
jy dit doen
hulle is bang om
jou te vra of om
jou te verloor
mammie se oë
is elke dag
onder trane
sy bid elke dag vir
jou vir krag en leiding

sodat die groot baas
jou kan beskerm en
genees waar jy jouself
seergemaak het

pappa gaan elke dag
werk om vir jou
’n beter toekoms te
gee en goeters te
leer wat hy laat
geleer het .

depressie bring nie altyd
’n slegte dag nie
somtyds kan ek
met my vriende
glimlag maar diep
binne wil ek breek en
myself aan die slaap huil
ek haat hoe
opgemors ek is

sussie is aan tik verslaaf
ek dink
die enigste
manier is om van
die realiteit te
ontsnap en enigste
oplossing is

asseblief God
tree in

Die gedig wat ek stuur, is ’n baie persoonlike gedig. Dit gaan oor myself (waardeur ek moet gegaan het om te besef dat ek die moeite werd is, al die negatiewe gedagtes wat ek moes oor­kom het en wat iemand alles deurmaak wat depressief is).

Ek het die gedig ook geskryf om ’n verandering te maak in ons jeug en jonger generasie se lewens. Ek wil hê mense moet verstaan waardeur andere gaan voor ons mekaar oordeel. As ek een persoon inspireer om nie moed op te gee nie, is ek tevrede .

Jy voel soms dat dit beter is om jou eie lewe te neem. Jy regverdig iemand se gedrag wat selfmoord gepleeg het omdat jy weet hoe dit voel om die duiwels in jou kop te veg. Jy voel dat die beste oplossing is om ’n brief te skryf en jou lewe te neem.

My boodskap is: kry hulp! Gaan praat met jou huisdokter, predikant, sielkundige of ’n berader. Vra dadelik hulp as jy vermoed jy of van jou geliefdes is in die moeilikheid!
– Adriahan Jacobs, Mosselbaai