Skending van begraafplaas: Wat is motief?
Na aanleiding van die voorbladberigte van ons twee plaaslike koerante in verband met die vernielsugtige en barbaarse vernietiging van historiese grafstene in ons plaaslike Joodse kerkhof, kan ek maar sê: Vergeef hulle God, want hulle weet nie wat hulle doen nie.
Ouer inwoners van Oudtshoorn sal beter weet as ek wat maar ’n “inkommer” is, hoeveel die Joodse gemeenskap bygedra het tot die ekonomiese opbou van ons dorp en distrik in ’n tydperk toe die dorp en distrik baie ernstige droogtes en ’n depressie beleef het.
Hierdie Jode het in Suid-Afrika aangekom met byna geen geld of ander besittings nie. Hulle kon nie hulp van die staat of enige ander instansie “demand” nie.
Nee, hulle het hul hande uit die moue gesteek en deur harde werk, dikwels te voet of later te fiets, deur die distrik beweeg, handelsware verkwansel, produkte soos tabak, saad en volstruisvere by produsente gekoop en weer verkoop. Op die dorp het hulle winkeltjies bedryf wat later groot besighede met internasionale verbintenisse geword het. Dit is tog vir elkeen van ons ’n bewys dat jy deur harde en volgehoue werk vir jouself en jou gesin kan sorg sonder om afhanklik (lees verslaaf) te raak aan staatstoelae.
Hulle het dikwels ook groot gesinne gehad soos dit maar destyds die geval was. Al verskil is dat die land en planeet toe nog ’n groter bevolking kon akkommodeer.
Ek wil egter terugkom na die motief van sulke waansinnige en vernietigende optrede deur wie ook al. Vir my lê dit by opvoeding. Hoe het jy grootgeword? Watter voorbeeld het jou ouers en ander familie aan jou gestel? Het jy dit met respek en eerbied teenoor jou ouers nagevolg, en, indien nie, het hulle jou met liefde en, indien nodig, met ouerlike tug – nie mishandeling nie – op die regte pad gehou?
Ek kan nie anders as om sulke walglike optrede ten sterkste en met die nodige misnoeë te veroordeel nie.
My hart gaan uit na die Joodse gemeenskap en elke ander geloofsgemeenskap wie se begraafplase so onteer en vernietig word.
Is dit onkunde, jaloesie, vergelding of sommer net duiwelswerk?
Wens slim mense kon in sulke mense se koppe inkyk om te sien wat daar aangaan… indien daar enigsins iets aangaan. Sterkte aan almal wat deur sulke optrede benadeel en bedroef gelaat is.
My eie ouers se grafte is deur soortgelyke misdaad geskend. Ek het altyd gemeen dat grafskending ’n ernstige misdaad is.
– Pieter Conradie, Oudtshoorn