Dankbaar vir skoonmaak
Sondagoggend op pad kerk toe was ons aangenaam verras om te sien hoe die weermagmanne Parkstraat op Oudtshoorn skoonmaak.
Baie dankie aan elkeen van hulle. Dit word opreg waardeer.
Thank you to all the army men for cleaning up Park Street on Sunday. What an example to everyone for a job well done.
Hopefully there will be fewer papers and bottles etc thrown out of cars or just discarded while walking along Park Street.
– Twee Oudtshoorniete
Water uit reservoirs by Zeelandsnek
Vir vele jare reeds lek daar water nutteloos uit by een of beide die reservoirs teen Zeelandsnek – soms ’n breë stroom en soms minder.
Dit vloei in die veld weg wat die plantegroei bevoordeel, maar mens wonder hoeveel duisende liter drinkwater gaan op dié wyse verlore ten koste van ons belastingbetalers wat reeds duur vir water moet betaal.
In die proses is daar diep slote – eintlik onooglike dongas – gespoel teen die koppie af.
As mens die munisipaliteit hieroor nader, kry jy verskillende verduidelikings van verskillende mense.
Dit was al: “Iemand wat nie gou genoeg die toevoer by die dam toedraai nie en die reservoirs wat dan oorloop”; dan is dit: “ ’n Konstruksiefout wat met die bou van die ou reservoir plaasgevind het.” Onlangs was dit: “ ’n Klep wat gebreek het”; en die nuutste: “Daar is fout met die fondasie van die een reservoir.”
En wat is toe die briljante oplossing hiervoor?
Toe ek onlangs teen Zeelandsnek gaan stap, is ’n laaigraaf besig om ’n reuse sloot – eintlik ’n kanaal – ’n entjie onder die reservoirs te grawe van noord na suid. Die kanaal loop maklik 400 meter dwars teen die koppie.
Die operateur het nie veel omgegee vir bome en die natuur nie. Die bewys hiervoor lê in die spoor van verwoesting wat gelaat is.
Nou wonder mens – is die kanaal gemaak om die lekkende water vir die publiek te probeer wegsteek? Want dit het duidelik nie gewerk nie.
Of wil die munisipale amptenare verantwoordelik hiervoor dalk maar vir ons sê wat die ware toedrag van sake is?
– Jos de Villiers, Oudtshoorn
