Briewe

Reaksie op David Piedt se artikels oor rassisme

Glen Snyman.

Graag wens ek hiermee om my mening te gee oor die onderwerp en skrywe oor rassisme van mnr Piedt.

As ’n jongman in Suid-Afrika van­dag, wat nie eintlik die lewe in Suid-Afrika onder die apartheid-era ervaar het nie, wil ek ook sê wat ek dink oor die stand van rassisme tans in ons dorp, Oudtshoorn. Ek het wit, bruin en swart vriende. Ek sien daag­liks hoe mense oor verskillende rassegroepe saam kuier, saam bly, saam bid, saam besigheid doen en net baie goed oor die weg kom met mekaar. Sekere mense het glad nie ’n pro­-bleem met mekaar nie.
Apartheid staan egter nog in ons Suid-Afri­kaanse wet in die vorm van die rasseklassifise­-ringsblokkies. Op die staatsvorms wanneer jy aansoek doen vir werk, moet jy aftik watter ras jy is (swart, bruin, Indiër of wit).

Wanneer gaan ons regering met sy rasbehept-heid stop?

Na my mening, om die “ongelykhede” van die verlede reg te stel, moet die regering meer werk skep vir die volk. Watter ongelykhede praat ons van? Slegs finansiële ongelykhede kan reggestel word. Maar wat van identiteit?

Het niemand dan ‘n pro­bleem om as lid van ’n spesifieke “ras” in ’n moderne post-Apartheid tyd geklassifiseer te word nie?

Tergende probleme soos hierdie het my gemotiveer om tien jaar gelede, in Oktober 2010, die drukgroep PARC (People Against Race Classification) te begin. Ek was en is moeg dat mense en die regering my ’n bruinman noem!

Ek het onmiddellik ’n T-hemp gemaak met die woorde daarop – I am not a Coloured, Black, Indian or White person. I am a SOUTH AFRICAN. Baie Suid-Afrikaners, plaaslik en in die res van die land, het my T-hemp gesien, gelike, gekoop en gedra.

Ek het al meer as 500 T-hemde versprei en ver­koop. Groot leiers en beken­des het op foto’s saam my in hierdie gewilde T-hemp geposeer om sodoende hulle steun te gee aan hierdie ideologie wat die antwoord is op Suid-Afrika se rasbeheptheid.

Ek verwys ook na die hartseer verhaal van Sandra Laing, wat as wit, swart en kleurling in haar lewe geklassifiseer is deur die Apartheids-bevol­kingsregistrasiewet van 1950. Hoe kan jy sê dat ’n kleurlingmens “gemeng” is? Gemeng met wat? Nog ’n ander mens? Belaglik!

In Amerika en Engeland mag jy nie na mense verwys as “coloured” nie. So, hoekom stop ons in Suid-Afrika nie die gebruik van hierdie woord nie? Kom ons los rassisme op deur op te hou om na ons­­self en andere te verwys as bruinmense, witmense of swartmense.

Vandag kan ons nie eens met iemand ’n rassistiese grappie maak nie of daardie persoon wil ’n saak teen jou maak. Kom ons wys die wetgewing weg wat met ras verband hou. Wees trots Suid-Afrikaans.

Hiermee vra ek dat mnr Piedt in die publiek vir ons dan sê watse ras hy is? Ek daag hom uit om ’n PARC T-hemp te dra. Mens kan nie net praat nie,

Meneer, doen iets prakties oor hierdie saak ook.
• Meer inligting oor PARC by www. parcsa.co.za. – Glen Snyman , leier van PARC

Onder: PARC se 30ste poster wat deel is van hul veldtog om die rassekwessie in die land hok te slaan. Dit is relevant in ’n tyd soos hierdie. As jy siek raak, vra jy nie wat is die ras van die dokter wat jou moet help nie.

Dankie!

Ek was onlangs vir ’n kort rukkie in die Oudts­hoorn Hospitaal vir ’n operasie. Graag wil ek my innige dank en waardering uitspreek teenoor die personeel, gewone werkers, tot die hoogste gesag vir die vriendelike en professionele wyse waarop ek behandel is.

Baie dankie ook vir die heerlike etes uit die kombuis.

’n Spesiale woord van dank aan dr Groenewald en span wat die operasie uitgevoer het asook dr Kruger wat die goeie nuus van die operasie oorgedra het en die medikasie voorgeskryf het. Baie dankie ook aan dr Delport en suster Jonathan van die Bridgton Kliniek wat die reëlings getref het dat die operasie uitgevoer kon word. – JD Visagie, Bridgton

Die siekte wat op die middag verwoes

Ons almal is die afgelope tyd geskok deur die spoed waarmee die korona­virus ons aardbol oorval het, en die gepaardgaande verwoesting van le­wens en angs wat dit meebring. Die angs sien ek as iets positiefs, want dit dui vir my daarop dat mense steeds bang is om te sterf. Ek sien die aange­leentheid as ’n wekroep en ver­trou die­gene wat nog onseker is oor hul finale bestemming, sal die geleentheid aangryp om hul sake in orde te kry.

In die tweede plek hoop ek dat die wêreldleiers tot ’n besef sal kom dat ons as aardbewoners beslis nie kan voortgaan om ons planeet so te verwoes deur ons leefwyse en bevol­kings­aan­was nie. Ek as leek besef dan in my eenvoud dat daar hopeloos te veel mense op ons planeet aarde is. Dit is nie volhoubaar nie.

Dit bring my by ons Afrika-vasteland waar der miljoene mense is wat kwalik aan die lewe kan bly, terwyl hul leiers in absolute weelde leef. Ons geliefde Suid Afrika volg dieselfde pad. Ontevrede mense betoog daagliks teen swak diens­lewering, en in die proses word onvervangbare infrastruktuur soos skole, hos­- ­pitale, munisipale kantore, biblio­teke en selfs polisievoertuie verwoes. Wat nog van al die treinwaens, busse en koper­-kabels wat geplunder word? En dan is daar waaragtig instansies wat die gesteelde goedere koop en uitvoer.

Regdenkende mense behoort te besef dat die meeste dele van ons planeet nie genoeg water het om ’n aanvaarbare mens­like bestaan te kan onderhou nie.

Ons op Oudtshoorn voel daagliks aan ons lywe en maandelikse munisipale rekeninge wat die droogte aan ons doen. En dan verneem ek dat daar nóg uitbreidings van woonbuurte beplan word! Ons lees weekliks op die voorblaaie van koerante dat ons elke druppel water moet spaar; en dit is ook reg so, ek stem volmondig daarmee saam, maar wat doen die raad om druppels te spaar?

Om terug te kom na korona. Ek sien daagliks hoe mans en selfs vroue in die openbaar en op straat loop en spuug. Dit is vir my ’n openbaring dat dit ’n virus moes neem om ons te leer dat ons gereeld ons hande moet was, maar ’n skok om te sien dat volwasse mense in die openbaar spuug. Waar het ons ouers dan gefaal met hul taak om hul kinders op te voed? Ons land sit met die twyfelagtige prestasie van die hoogste infeksie van TB en MIV/Vigs, juis dié mense wat die vatbaarste is vir die virus.

Kom ons glo en vertrou dat elkeen van ons spoedig tot besinning sal kom, selfondersoek sal doen, ons familie en vriende emosioneel sal ondersteun en tot God sal bid en pleit vir tydige ingryping. Ons moet besef dat ons as mense nié in volle beheer van ons planeet en lewens is nie. Kom ons besef en bely ons totale afhanklikheid van ons Skepper en probeer minstens daarvolgens leef. Sterkte aan almal en in besonder aan ons leiers. – Pieter Conradie, Oudtshoorn

Nogmaals water

Gister, 23 Maart, was daar ’n insetsel op SABC 2 Nuus wat mooi gewys het hoe om hande te was. Die ongelooflike was dat die kraan nooit toegedraai is gedurende die proses nie en redelik wyd oopgedraai was. As almal van nou af so gaan hande was, loop ons opgaardamme binnekort leeg. Die situasie is onder die SABC se aandag gebring. Hoop daar is reaksie.

Dan het ons ook te doen met pyp-barste waartydens baie kiloliters water verlore gaan. Ek wil ook graag weet of koshuise se stortkoppe vervang is met die wat water bespaar. Huisbewoners behoort ook die stortkoppe aan te skaf. – Oudtshoorniet

Be the first to comment on "Briewe"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*