Baie dankie aan almal vir dié spanpoging
Dis met ’n lekker hart wat ek die positiewe kommentaar lees op Klassieke Klein Karoo Kersfees, ons eerste konsert op Celebratio.
Ek wou graag iets spesiaals aanbied en dit is lekker om te sien hoeveel mense die detail en finesse raakgesien en waardeer het. Dit sou egter verwaand wees om al die dank vir myself op te eis.
Dit was ’n spanpoging te midde van reën en beurtkrag en verskeie laat nagte om alles betyds klaar te kry.
My werkers op die plaas het hul deel gedoen om die perseel gereed te kry en Jacques Marais het verskeie laat nagte gesweis as gevolg van beurtkrag om die nuwe verhoog betyds te kon voltooi.
Dankie ook aan Oudtshoorn Ford wat onmiddellik aangebied het om die kunstenaars veilig te vervoer, Jasmyn Bloemiste wat die blomme vir die kunstenaars en VIP-vrouekleedkamers gedoen het, Alert
Patrol vir die verkeers- en veiligheidsreëlings, Gideon van Global Elektries vir die opgrade-ring van die elektriese installasie op die plaas en Klein Karoo Event Medics.
Dan, natuurlik, baie dankie aan elkeen van u wat die konsert bygewoon het, want sonder ’n gehoor sou alles tevergeefs gewees het.
Ook aan Bella Cibo en Nostalgie, baie dankie vir die spyseniering wat in die VIP-lokaal verskaf is.
’n Spesiale woord van dank aan Die Hoorn wat ons mediavennoot was en seker gemaak het dat almal van die konsert geweet het.
Ek vertrou dat u almal ’n geseënde Kersvakansie gehad het. Voorspoed ook met die jaar wat voorlê.
Ons sal u graag binnekort weer terug verwelkom by ons volgende unieke konsert op Celebratio.
– Gerhard Meyer, Celebratio