Liesel le Roux
DAAR is drie goed wat inwoners se gesprekke die laaste tyd op Oudtshoorn oorheers.
Die eerste is nie uniek aan die dorp nie – dit is ’n diepe kommer oor die kragsituasie in die land en die uitwerking daarvan op inwoners en besighede in Suid-Afrika.
Die tweede is die vernietigende uitwerking van ’n voortslepende droogte op die Klein Karoo. Talle waterbronne het reeds opgedroog of raak skraps. Wilde diere kan nie meer in die veld oorleef nie en vrek. Boere en hul plase gaan onder. Tuine verdor. Die ekonomie van Oudtshoorn en die Klein Karoo kreun onder hierdie meedoënlose aanslag.
Die derde is die Preston Titus- moordsaak wat die afgelope drie weke in die rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn voorgekom het.
Die moord op Titus op 1 Desember 2017 in sy slaapkamer in die weermagkamp op Oudtshoorn het skokgolwe deur die dorp gestuur – sulke dinge gebeur nie op dié plattelandse dorp nie. Toe Titus se vrou, die ANC-raadslid Magdaleen, haar vriendin Natashia Stuurman, haar motorbestuurder, Sixabiso Klip, en twee Oos-Kaapse mans daarna in verband met die moord in hegtenis geneem is, het ontsteltenis op die dorp toegeneem. Klip is intussen tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy ’n pleitooreenkoms met die staat gesluit het, maar die res van die hofsaak is gister tot Mei uitgestel
Vandeesweek is daar darem iets soeter en opwindender as beurtkrag, droogte en ’n moordverhoor op almal se lippe – die KKNK is hier!
Boonop vier ons vanjaar die 25ste fees sedert die KKNK deur ’n inisia-tief van ’n Oudtshoorn-sakeman, Nic Barrow, en Andrew Marais van Naspers, tot stand gekom het.
Lees gerus die gesprekke met twee Oudtshoorniete, David Piedt (op dié bladsy) en Poem Mooney (bl 5) oor hul pad met die fees en die invloed op hul lewens. Op bladsy 5 is ook skakels na vyf ander gesprekke met inwoners om aanlyn te lees.
Die Oudtshoorn en Suid-Afrika van 1995 toe die eerste KKNK plaasgevind het, was ’n heel ander plek as die Oudtshoorn en Suid-Afrika van vandag. Dié eerste Afrikaanse kunstefees het inderdaad ’n lang pad gestap tot nou, ’n pad wat sigbaar meer inklusief is, na ’n fees wat wil versoen maar steeds uitdaag.