
Deur Angelique Erasmus
DIS lente, al laat die sneeu op die berge dit nog meer na winter lyk.
Lente is nietemin die tyd om te plant – kleurvolle blomme of ’n heerlike groentetuin.
Ongelukkig loop veral Oudtshoorniete se tuine met die droogte, waterbeperkings en hemelhoë water- pryse die gevaar om maar dowwe, dooie en kleurlose plekke te wees.
Vetplante – wat min water vereis – is egter die lig aan die einde van die tonnel. Hulle is nie net staatmakers as jy wil water spaar nie, maar kom in soveel verskillende kleure, groottes en vorms voor.
Woestynrose dra die mooste geel blomme wanneer hulle blom, en aalwyne maak altyd ’n tuin mooi.
Vygies kom voor in geel, oranje en skelpienk. En nie net is hulle kleurryk en het min water nodig nie, maar jy kan hulle met steggies vermeerder.
Voor jy jou oë uitvee, het jy ’n vetplant-wondertuin, en ’n lae munisipale rekening.
Dis ’n wen-wen vir almal.