Min water – maak so met jou tuin

Generiese foto

Die Munisipaliteit het verlede week vlak 1 waterbeperkings ingestel vir Oudtshoorn en tuine mag slegs sekere tye en dae van die dag natgelei word, maar dit is nie ’n rede om nie ’n mooi tuin te hê nie. Werk net slimmer met jou water.

Gelukkig is dit nie nuut vir Oudtshoorniete en inwoners van die Klein Karoo om met min water reg te kom nie, en verskeie tuine is reeds waterwys.

Hier is ’n paar waterwerke om jou plante steeds gelukkig te maak, maar jou munisipale waterrekening laag te hou en jou waterverbruik te beperk.

Dit is nie nodig om meer as 12 mm se water op ’n natlei slag toe te dien nie. Plaas ’n reënmeter in jou bedding om dit te meet as jy kan natlei. Dit verseker dat daar nie onnodig water gemors word nie, maar jou tuin steeds optimaal natgelei word.

Kyk vir poeier-oplossings op die mark wat tot 300 keer sy gewig in water absorbeer en in beddings ingespit kan word.

Dié mengsel help dat plante nie so dikwels water gegee moet word nie en is ideaal as mense vir ’n tyd lank van hul huise weggaan of as daar waterbeperkings ingestel word.

Gras gebruik baie water om mooi groen te bly, gebruik eerder ’n alternatief soos nagemaakte gras wat geen water benodig nie, of maak ’n mooi kliptuin.

Maak ook plante nat in die oggend of aand, wanneer dit koeler is en water nie so maklik verdamp nie.

Prioritiseer ook watter plante vir jou belangrik is. As waterbeperkings op hoër vlakke ingestel word, gaan water wat vir jou tuin beskikbaar is, minder raak.

Plant eerder plante oor in houers of potte, dan word net die area wat nodig is nat gemaak en water nie byvoorbeeld vermors op sement oppervlakke of bakstene nie.

Koop oprol geute. Die plastiek silinders kan per meter gekoop word en dan met tou aan jou geute vasgemaak word. Sou daar wel welkome reën val, word dit opgevang en loop op die gras uit.

Dit is ook slim om ’n watertenk of twee aan jou huis se geute te koppel. Die water kan dan geberg word en met behulp van ’n klein fonteinpompie en ’n pyp verskeie dele van jou tuin natmaak.

Gebruik gryswater, maar wees versigtig.

Gryswater moet nie langer as 24 uur geberg word nie omdat dit dan begin sleg ruik.

Daar is stelsels op die mark wat by jou huis geïnstalleer kan word en die water van jou stort, bad en ook wasmasjien na jou tuin kan lei.

Ons almal moet ons deel doen om water te bespaar, veral hier in die Klein Karoo, en so verseker dat ons genoegsame water sal hê vir die droër maande van die jaar. (Deur Angelique Erasmus)