Meer TB hier as gevolg van armoede

• Tuberkulose kan genees word

Mathilda Lottering van SANTA op Oudtshoorn lig konferensiegangers Saterdag in oor die situasie ten opsigte van tuberkulose in Oudtshoorn. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
TUBERKULOSE is naas MIV die twee­de grootste oorsaak van sterftes in die Eden Distrik, maar dit is behandelbaar.
Dit was van die interessante inligting wat konferensiegangers die afgelope Saterdag gehoor het by die provinsiale konferensie en Algemene Jaarvergadering van SANTA (South Africa National Tuberculosis Association) Wes-Kaap wat by die Oudtshoorn Inn gehou is.

Volgens syfers van die aantal tuberkulose-gevalle in die verskillende munisipa­li­teite in Eden is die voorkoms van tu­- ber­kulose (TB) hoër op Oudtshoorn as in vergelykbare munisipaliteite soos Knysna en Mosselbaai, iets wat direk toegeskryf word aan groter armoede op Oudtshoorn, en gevolglike swakker woonomstan­dig­hede en die kos wat mense eet.

Hoe swakker mense se weerstand en omstandighede is, hoe makliker steek hulle die siekte aan, met veral mense in die gevangenis en informele woongebiede wat vatbaar is.

In 2017 is 850 mense in Oudtshoorn vir TB behandel teenoor 599 in Knysna en 754 in Mosselbaai.

Onkunde rondom tuberkulose speel ’n groot rol daarin dat mense dit aansteek, nie gesond word nie en uiteindelik sterf. Dit is ’n siekte wat deur die lug aangesteek word wanneer mense nies of hoes. Tuberkulose en MIV-positiwiteit gaan ook dikwels hand aan hand. Volgens sy­fers van 2016 was pasiënte in sowat 80% van gevalle geïnfekteer met MIV en TB.

Mense voel dikwels binne twee maan­de nadat hulle met behandeling be­gin het, soveel beter dat hulle nie die lang kursus van ses tot nege maande se me­dikasie voltooi nie – iets wat noodsaaklik is vir genesing. Hulle word dan weer siek.

Mathilda Lottering van SANTA op Oudtshoorn sê die organisasie behaal sukses op die dorp omdat hulle binne die gemeenskap werk deur huisbesoeke.

“Oudtshoorn het geleer, as jy die diens­te na die gemeenskap neem, behaal jy die sukses,” het sy gesê.

Lottering het ook die SANTA DOTS-werkers se belangrike rol binne die gemeenskap beklemtoon. “Pasiënte sien ons as familie,” het sy gesê.