MET Vadersdag om die draai, is hierdie die perfekte geleentheid om jou pa te bederf en te wys hoeveel hy vir jou beteken. Ons het ’n paar wenke om te help.
1. Ontbyt in die bed. Daar is niks lekkerder as om bederf te word met ’n heerlike bord ontbyt in die bed nie. Spek, eiers, bros roosterbrood met egte botter, bruingebraaide worsies, goue skyfies en ’n lekker koppie stomende koffie. ’n Ander alternatief is om sy gunsteling-maaltyd voor te berei – al sy gunstelingkosse op een bord.
2. Doen wat vir Pa lekker is. Kyk sy gunsteling- program of fliek, of werk saam met hom in die tuin. Dis altyd ’n spesiale tyd saam met Pa, wat sal sorg vir genot en spesiale herinneringe.
3. Maak vir hom ’n kaartjie. Wat is mooier om te sê jy is spesiaal as jou eie unieke kaartjie. Dit gedoeningesit het om iets te maak wat uit jou hart uit kom.
4. Sertifikaat vir die beste pa in die wêreld. Sit dit in ’n mooi raam langs sy bed, of hang dit teen die muur op sodat almal kan sien jy spog met jou pa. Daar is talle voorbeelde op die internet wat afgelaai en aangepas kan word.
5. Bederf hom met iets lekkers. Laat ’n “hamper” maak met ’n verskeidenheid lekkernye soos biltong, droëwors, neute, gedroogde vrugte, ietsie soets en ’n drinkdingetjie. So kan jou Pa lekker peusel en hopelik met die res van die gesin ook deel.
6. Sokkies, dasse en reukwater. As jou pa van dié soort ding hou, is dit altyd lekker om vir hom iets te gee wat hy kan gebruik. Hy sal ook elke keer as hy dit sien aan jou dink.
7. Gee vir hom die dag af. Vadersdag is sy dag om te rus en dit te geniet. Bied aan om te braai, en laat hom lekker ontspan.
Onthou – elke dag is ’n geleentheid om vir jou pa te wys hoe baie hy vir jou beteken. Sê vir hom hoe gelukkig julle is dat hy julle pa is, en hoe baie julle hom waardeer. Ons pa’s is immers ons eie superhelde.