Beurtkrag gaan nog lank met ons wees – so 18 maande volgens Eskom. Waar dit eers beperk was tot 23:00, geld dit nou ook in die nagtelike ure.
Meeste mense sal dit eens wees: die ergste is wanneer jou “beurt” van 18:00 to 22:30 is. Kos moet gemaak word, die kinders moet bad…
Hoe maak ’n mens die ure-sonder-elektrisiteit so maklik as moontlik?
Die kosprobleem kan jy oplos deur ’n gasstoof aan te skaf. Hoewel dit duur is, spaar jy op die lange duur op jou kragrekening. Gas kos sowat R200 vir ’n 9 kg-gasbottel en hou tussen een en ses maande, afhangend van hoe baie jy die stoof gebruik.
Om warm water te hê vir stort, bad en skottelgoedwas, het jy een van twee keuses – ’n warmwatertoestel met ’n sonpaneel of ’n gas-warmwater- toestel. Onthou net as dit lank bewolk is, het jy met ’n sonpaneel nie warm water nie. Met die gasopsie het jy altyd warm water solank jy gas het. Gas is ook goedkoper om te installeer en te bedryf.
Maar dan sit ’n mens nog in die donker! Dié met ’n beperkte begroting, kan gerus ’n gaslamp aanskaf. Mense met ’n groter begroting het ’n paar opsies.
Maar doen dit so: Stap 1 – doen navorsing. Stap 2 – besluit watter toestelle jy aangeskakel wil hou gedurende beurtkrag. Stap 3 – bereken hoeveel Watt (W) jy gaan nodig hê vir dié items. Op elke toestel soos ’n gloeilamp of yskas word aangedui hoeveel Watt die toestel gebruik. Bereken die somtotaal van hoeveel Watt jy benodig.
Beurtkrag kan enigiets van twee tot vier ure duur, of selfs langer tydens fase vyf tot agt. Jy gaan dus krag benodig vir sowat vyf ure.
• Kragopwekkers – dit kos enigiets van R2 000 tot R15 000, afhangend van hoeveel Watt jy benodig. Kragopwekkers is gewoonlik groot en ongerieflik om te hanteer. Jy moet onthou om te sorg dat daar petrol is daarvoor. Dit lawaai en kan ’n steurnis wees vir jou én jou bure! Jy mag net 20 liter petrol op jou erf aanhou en dit moet eenkant gestoor word. Jy moet ook ’n brandblusser van ten minste 4,5 kg byderhand hê.
- Batterye – ’n Batterystelsel bestaan uit ’n batterylaaier om dit te laai wanneer die krag weer aan is; ’n “inverter” wat die krag van gelykstroom (direct current) omskakel na wisselstroom (alternate current); en die batterye, wat die elektrisiteit stoor.
Daar is ’n paar opsies:
Opsie 1: Kraglewering: 240W. Dit lewer krag vir: 4 – 6 LED (24W) of CFL-gloeilampe (45W); TV en dekodeerder op bystand gebruik 30W en 150W wanneer aangeskakel; selfoonlaaier gebruik 6W wanneer die selfoon laai en 0,5W op bystand.
Komponente: 2 x 12V 100 Ah-batterye (2 x R2 500); inverter – 1 000W (10,5A) en 1,2 kWh (R3 000). Beraamde koste sonder installering: R8 000 – R15 000.
Opsie 2: Kraglewering: 480W (genoeg vir ’n drieslaapkamerhuis). Dit lewer krag vir: 10 – 15 LED (24W) of CFL-gloeilampe (45W); TV en dekodeerder op bystand gebruik 30W en 150W wanneer aangeskakel; selfoonlaaier gebruik 6W wanneer selfoon laai en 0,5W op bystand. Skootrekenaar gebruik 65W wanneer dit laai; een energiebesparende yskas.
Komponente: 2 x 12V 200 Ah batterye (2 x R5 000); inverter – 2 400W (10,5A) en 2,4 kWh (R6 000). Beraamde koste sonder installering: R16 000 – R30 000.
Opsie 3: Kraglewering: 960W. Dit lewer krag vir: alle ligte; TV en dekodeerder; verskeie energiebesparende yskaste; skootrekenaar en drukker (klein).
Komponente: 4 x 12V 200 Ah batterye (4 x R5 000); inverter – 7 000W (17A) en 4,8 kWh (R15 000). Beraamde koste sonder installering: R35 000 – R50 000.
Dié pryse is egter net ’n aanduiding, so kry ’n kwotasie.
Bogenoemde opsies word gelaai sodra die krag weer aan is.
Met bogenoemde opsies kan geen ketel of elektriese stoof of warmwatertoestel gebruik word nie.
Wat van sonpanele?
Oudtshoorn is gelukkig omdat ons baie sonskyndae het, maar dit is nie so effektief op opeenvolgende bewolkte dae nie.
Hier is ’n paar sonpaneelopsies: - Een of twee sonpanele en ’n battery lewer tussen 10 en 20W (genoeg vir ’n paar ligte en selfoonlaaier). Dit sal jou so tussen R2 000 en R5 000 uit die sak jaag.
- ’n Groter sonpaneel en battery wat 120W lewer, genoeg vir vyf ligte of ’n TV of yskas. Die koste beloop tussen R9 000 en R16 000.
- ’n 1,5 tot 3 kW-stelsel met batterye kan 280 tot 305W lewer (genoeg vir ’n paar ligte, TV en ’n yskas). Die koste beloop R50 000 plus.
Installasie moet deur ’n gekwalifiseerde elektrisiën gedoen word en jy moet ’n sertifikaat van voldoening (Certificate of Compliance – COC) kry. Daar is regulasies waaraan die installasie moet voldoen, so maak dus seker jy kry die nodige goedkeuring van jou munisipaliteit. (Deur Heinrich Bosman)