Wanneer laas het jy jou gesondheid laat ondersoek? Vir baie mense is die antwoord waarskynlik: “Te lank gelede.” Nie omdat hulle nie omgee vir hul gesondheid nie, maar omdat die koste van ’n dokterbesoek of medikasie hulle twee keer laat dink.
Dit is juis dié uitdaging wat EasyCare Oudtshoorn wil aanspreek deur bekostigbare primêre gesondheidsorg vanuit sy tweede kliniek, wat op 1 April by Checkers Square geopen het.
By die kliniek word professionele primêre gesondheidsorg deur verpleegkundige Margie Jonathan aangebied.
Anders as EasyCare se Voortrekkerstraat-tak, waar dokterkonsultasies aangebied word, fokus die kliniek op verpleegkundige konsultasies, wat help om koste laag te hou.
Die EasyCare-tak werk op ’n lidmaatskapstelsel en nie met mediese fondse nie. Minstens vyf mense – familie, vriende, kollegas of bure – sluit saam aan.
Die lidmaatskap kos R115 per persoon per maand (jaarkontrak) en sluit onbeperkte konsultasies in, mits dit nie misbruik word nie. Medikasie kos R80 indien benodig.
Nie-lede kan steeds die kliniek besoek teen R400 vir ’n konsultasie en medikasie.
Die kliniek bied onder meer algemene en instapkonsultasies, gesinsbeplanning, swangerskapversorging en baba-immuniserings.
Deur die EasyCare Chronic-program kan pasiënte wat reeds by ’n staatskliniek vir chroniese medikasie geregistreer is, hul staatsbefondsde medikasie by EasyCare afhaal teen ’n administrasiefooi van R50 per maand.
Nadat ek en my kollegas onlangs by EasyCare aangesluit het, het ek besluit om self die diens te ervaar. By my besoek is ’n volledige basiese ondersoek gedoen.
My bloeddruk en bloedsuiker is getoets, daar is na my hart en longe geluister en Suster Margie het deeglik na my algemene gesondheid gekyk.
Sy het ook ’n Vitamien B Co-inspuiting voorgestel, wat tot my verbasing by die konsultasie ingesluit was.
Toe my bloeddruk effens aan die hoë kant was, het Suster Margie tyd geneem om moontlike oorsake te bespreek en aanbeveel dat ek vir ’n opvolgbesoek terugkeer.
Ek het ook ’n inligtingspamflet ontvang, wat die indruk geskep het dat die fokus nie net op ’n enkele konsultasie val nie, maar op volgehoue sorg.
Wat my die meeste opgeval het, was die vriendelike ontvangs en die gemoedsrus dat ek nie met ’n groot rekening sou uitstap nie.
Dat daar boonop geen wagtyd was nie, was ’n bonus.
Die kliniek is geleë by 2 Olivierstraat, Checkers Square, en is oop Maandae tot Donderdae van 08:00 tot 17:00, Vrydae van 08:00 tot 16:30 en Saterdae van 08:00 tot 12:00.
Vir meer inligting, besoek easycare.health of skakel 067 904 7365. (MALISSA SPIES)
