Winterprojek reeds meer as halfpad na teiken

Lede van die Rotariërklub van Oudtshoorn het Saterdag 27 Junie hul Kombersprojek by die Klein Karoo Markt bekendgestel. Foto verskaf.

Die Rotariërklub van Oudtshoorn se Kombersprojek (Blanket Drive) het Saterdag 27 Junie by die Klein Karoo Markt amptelik afgeskop, met inwo-ners wat reeds ruim ondersteuning aan die winterprojek getoon het.

Die klub het ten doel om 500 komberse teen 15 Julie aan mense in nood uit te deel. Die projek werk op ’n eenvoudige beginsel: vir elke R100-donasie word een kombers geskenk, waarna die Oudtshoorn Rotariërklub die donasie ewenaar deur nog ’n kombers by te voeg.

Dit beteken dat elke R100 uiteindelik twee komberse beskikbaar stel.

Tydens die bekendstelling is donasies vir 142 komberse ontvang. Met die rotariërs wat die skenkings verdubbel, staan die projek reeds op 284 komberse – meer as die helfte van die klub se mikpunt.

Die klub het sy opregte waardering uitgespreek teenoor almal wat reeds bygedra het.

“Ons is dankbaar vir elke skenking en die ondersteuning wat ons uit die gemeenskap ontvang. Saam kan ons nog meer mense hierdie winter met warmte bereik.”

Die klub doen nou ’n beroep op die gemeenskap om die inisiatief verder te ondersteun sodat die teiken van 500 komberse bereik kan word voordat die uitdeel op 15 Julie plaasvind.

Volgens die Rotariërklub sal elke bydrae help om warmte en hoop aan gesinne gedurende die winter te bring. Die komberse sal aan behoeftige inwoners in die Oudtshoorn-omgewing versprei word.

Belangstellendes wat die Oudtshoorn Rotariër-klub se Kombersprojek wil ondersteun, kan die klub kontak by 083 230 7091.