Marius Joseph, die Wes-Kaap se beste algemene landbouwerker van die jaar.
Foto Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
MARIUS Joseph (35), boorling van Oudts-hoorn, is die Wes-Kaap se beste algemene landbouwerker van die jaar!
Dié groot eer is egter nie al rede waarom Joseph deesdae breed glimlag nie. Hy het ook pas die derde keer pa geword.
Joseph is in Augustus as die Klein Karoo se Beste Algemene Werker by die streek se Landbouwerker van die Jaar-kompetisie aangewys.
Hy en die ander Klein Karoo-landbouwenners is hierna na Stellenbosch vir onderhoude wat deel uitgemaak het van die provinsiale kompetisie. Hy moes daar teen 16 ander finaliste uit die ander streke in die provinsie deelneem.
Volgens hom was die vrae tydens die onderhoude egter nie vir hom moeilik nie, en kon hy dit met gemak antwoord.
Hy het daarna op 2 November by die Wes-Kaapse landbouwerker-gala-aand gehoor hy is ook die provinsiale wenner!
Hy vertel hy was baie verbaas en baie verras. “Ek het nie gedink ek sal wen nie, omdat die kompetisie so sterk was,” vertel hy.
Joseph is werksaam op die plaas Greylands wat aan die Welbeplangroep behoort.
“Ons is trots op Marius, en sien ’n blink toekoms vir hom,” sê Hentie Truter, die plaasbestuurder.
Joseph werk reeds 10 jaar op die plaas, en droom daarvan om eendag ’n voorman te word.
‘Ek wil nog lank in die landboubedryf wees, want ek hou ongelooflik baie daarvan en geniet my werk”