TYDENS die grendeltydperk met die deure van baie besighede in Suid-Afrika gesluit, is ’n unieke hand-werkprojek by Calitzdorp aangepak.
Die 29 voltydse werkers van De Krans, ’n bekroonde wynplaas, het onder die leiding van Deon van der Bank (bistro-chef) en Heletje Viljoen (proelokaalbestuurder) planne ge-maak om as besigheid, ’n span en as individue te oorleef.
’n Diep skoonmaak, ’n bietjie verf-werk en instandhoudingswerk soos die vernis van bistrotafels het die span net ’n paar weke besig gehou, waarna ’n handewerkprojek spontaan ontstaan het.
Mense wat gewoonlik wyn verpak en help kos maak, het begin om items wat reeds by De Krans was, soos ou houtvate, kurke, leë wynbottels en wingerdlote, kreatief in mooi en bruikbare handgemaakte produkte te omskep.
Met die besef dat daar vanjaar geen Bloeiselfees sou wees nie én die appelkoosbloeisels boonop mooier was as ooit, is die projek herdoop na die De Krans Bloeiselprojek.
Die span van De Krans hoop dat die Bloeiselprojek voortaan jaarliks ’n winterprojek sal word in die maande wanneer dit normaalweg stil is by die bistro en wynproelokaal. Daar sal hoofsaaklik herwinbare materiaal gebruik word.
Die produkte is slegs op die plaas te koop.