Louis Lategan (links), inwoner van Gottlandhuis op Oudtshoorn neem ’n muur- verwarmer in ontvangs van Francois de Kock, bestuurslid van die Kangovalleie Landbouvereniging. 12 muurverwarmers is onlangs deur die landbouvereniging aan die ouetehuis oorhandig. Foto verskaf
“DIT is die eerste keer dat boere vir ons iets doen – en dit is vir ons ’n riem onder die hart dat ons ondersteun word deur hierdie groep wat help om die dorp se ekonomie aan die gang te hou.”
Aan die woord is Hettie Coleman, hoof van Gottlandhuis, wat 12 muurverwarmers, geskenk deur die Kangovalleie Landbouvereniging, in ontvangs geneem het.
Gottlandhuis val onder die Oudtshoorn ACVV.
In dié 114 jaar-oue huis word kamerversorging aan 31 inwoners verskaf.
“Daar is geen verandering aangebring aan die oorspronklike geboustruktuur nie – die perseel bestaan uit vier blokke, waarvan die oorspronklike perdestalle omskep is in enkelkamers wat die inwoners self meubileer.
“Ons het nie ’n siekeboeg nie – wanneer bejaardes hier verswak, word hulle oorgeplaas na Bellinghanhof,” vertel sy.
Die inwoners het verskeie projekte waarmee hul besig is: van broodjies verskaf (elke Donderdag!) aan die Oudtshoorn Hospitaal se kindersaal tot komberse hekel en brei vir fisiek gestremdes.
Hierdie op en wakker inwoners ploeg inderdaad terug in ons gemeenskap.
Chris Botha, ondervoorsitter van die Landbouvereniging, sê dat dit ook een van die vereniging se oogmerke is.
“Die inwoners se harte is net so warm soos die verwarmers wat ons skenk. Dit is lekker om iets sinvols en bruikbaars te kan gee aan ons grootmense, wat diep spore getrap het,” sê hy.
• Die verwarmers is aangekoop uit ’n gedeelte van die wins wat die vereniging gemaak het uit die Kango Agri Expo van 2018.
Vanjaar se fondsinsamelingspoging is ’n pret-gholfdag wat op 5 Oktober gehou gaan word. ’n Gedeelte daarvan sal weer in gemeenskapsinisiatiewe terug- geploeg word.
Vir navrae oor deelname aan die gholfdag, kontak Kobus Theron by 079 619 0124.