Geen waarheid in dat vliegveld sluit
Deur Marlene Malan
DIE instandhouding en opknapping van die Prins Albert-vliegveld vorm deel van ’n algehele ontwikkeling van die noordekant van dié toerismedorp. So sê die munisipale bestuurder, Heinrich Mettler, nadat inwoners die afgelope week op sosiale media te velde getrek het teen die munisipaliteit “wat die vliegveld wil sluit”.
Mettler sê dis onwaar. “Die vliegveld is deel van die dorp se toerismeaanbod.” Hy sê dit is wel so dat ’n appelkoosboord op die stuk munisipale grond langs die aanloopbaan aangelê gaan word. Die vliegveld is ook op munisipale grond geleë.
Volgens hom gaan sowat 16 ha vir die boord gebruik word.
“Dis ’n interregeringsprojek tussen die departement landelike ontwikkeling en grondhervorming van die nasionale regering, die Wes-Kaapse de- partement landbou, omgewing en ontwikkelingsbeplanning, en die Prins Albert Munisipaliteit. ’n Heining is tussen die boord en die vliegveld opgerig as eerste ontwikkelingstap. Altesame 42 hektaar is omhein. Daar is oop stroke van sowat 20 meter tussen die heining en die aanloopbaan.”
Die projek, wat die heining, plantasie-aanleg, instandhouding die eerste vyf jaar, ’n appelkoosdroogbaan en koelgeriewe insluit, gaan meer as R30 miljoen kos. “Dit kos ons belastingbetalers egter nie ’n sent nie. Finansiering geskied deur die departe- ment landelike ontwikkeling se Agri-Park-program, waarvoor R3 miljoen goed gekeur is. Die heining, wat R2,8 miljoen gekos het, is deur dié departement betaal. Ons het R5 miljoen per jaar aangevra vir instandhouding, wat salarisse vir die eerste vyf jaar insluit. Landelike ontwikkeling is nou besig met ’n omgewingimpakstudie en onderneem spesialis-studies. Besproeiing sal plaasvind deur herwinde water van ons rioolwerke. Ook dit word deur dié departement gefinansier.”
Die verkoelingseenheid en droogbaan sal by die noordelike ingang van die dorp gebou word.
Mettler het gesê ’n openbare deelnameproses begin binnekort, “maar inwoners moet onthou ons praat van ’n projek op munisipale grond. Dis deur die raad goedgekeur. ”
Mettler het die volledige sakeplan van Die Prins Albert-droëvrugteprojek, saamgestel deur landelike ontwikkeling en die maatskappy Urban- Econ, aan Die Hoorn beskikbaar gestel. Hiervolgens is Urban-Econ aangewys as ekonomiese konsultant. Luidens die dokument het die projek “die potensiaal vir strategiese intervensie in die ontwikkeling en armoedeverligting van landelike ge- meenskappe in die Wes-Kaap.”
’n Mark vir die droëvrugte is verkry by Cape Dry, wat hom daartoe verbind het om alle droëvrugte wat hier geproduseer word, te koop. Mettler sê die droogbaan is ook ’n afsetgebied vir vrugteboere in die omgewing. Cape Dry en die Farmers Assosciation Trust gaan dit bestuur.
• Mettler sê die munisipaliteit beskou die vliegveld as ’n bate vir die dorp en sy toerismebedrywighede.
“Die boord gaan nie die vliegveld kortwiek nie. Die aanloopbaan bly soos dit is, maar die dwarsbaan waarop vliegtuie parkeer, kan in ’n suidelike rigting verskuif word.”
Volgens hom kort die noordelike dorpsgebied lankal opknapping, ook omdat dit voortdurend onooglik is weens vullisstrooiing. “Ons werk aan planne hiervoor. Die munisipaliteit werk nie téén sy inwoners nie, maar vír hulle; in omstandighede waarin ons nie belastings kan verhoog nie. Daarom doen ons oral aansoek vir ontwikkelingsgeld, terwyl ons werk probeer skep, die dorp opknap en ekonomiese vooruitgang beplan.”