24 reuse-tenke verwyder

’n Reusagtige wynbottel wat op die perseel van Klein Karoo Saadbemarking in Van der Rietstraat in Oudtshoorn gestaan het, is ook verlede week verwyder. Die perseel was voorheen die van die Kango Wynkelder.   Foto: Schalk le Roux

’n Man word verdwerg deur twee van die wyntenke wat verwyder is.  Foto: Higgo Jacobs

’n Man word verdwerg deur twee van die wyntenke wat verwyder is.  Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
DIE verwydering van 24 reuse-wyntenke vanaf die terrein van Klein Karoo Saadbemarking in Van der Riet­straat die afgelope paar weke was vir die bestuur van dié maatskappy ’n groot verligting en oplossing van hul probleem.

Volgens Johnnie Hunlun, finansiële bestuurder, was die wyntenke  net wit olifante vandat hulle die perseel by die Kango Wynkelder oorgeneem het.

“Ons het die wyntenke geadverteer en probeer verkoop, maar as gevolg van die geweldige koste verbonde aan die afbreek en vervoer daarvan, was daar nie werklike belangstelling nie.

“Veral die vervoer per pad van hier­die tenke verg geweldig baie organisasie. Die kleinste tenk weeg sowat 10 ton en die breedte van die vragmotors wat die tenke kan vervoer, moet ook in ag geneem word.

“Nie alle paaie in die verskillende provinsies is breed genoeg hiervoor nie.”

Hunlun sê Coastal Rigging van Mosselbaai het uiteindelik ’n aanbod gemaak wat hulle aanvaar het.

K2 Saadbemarking gaan volgens Hunlun nou ’n mielienavorsingsprojek op die terrein wat beskikbaar ge­raak het, doen.

’n Kweekhuis met een nat muur wat die vog gaan verskaf, sal binnekort opgerig word.

Die projek se doelwit is om mielies te kweek wat meer droogtebestand gaan wees.

Hunlun sê dit is ’n langtermynprojek wat tyd gaan neem om resultate te lewer.