
John Jacobs.
DIE Suid-Afrikaans gebore Franse mimiekmeester, John Jacobs, is terug in sy geboorteland om vanaf Dinsdag by die KKNK op te tree in ‘n splinternuwe Paasfeesproduksie, My passie vir Jesus.
Die produksie is te sien in die Laerskool Wesbank-saal op 11 April (11:30), 12 April (09:00), 13 April (17:30), 14 April (11:30) en 15 April (14:00).
John Jacobs was vir jare die voorloper in sy pa se Klopsegroep in Distrik Ses en kon van kleintyd af baie goed dans. Met sy besondere danstalent het prof Mavis Taylor van die Universiteit van Kaapstad vir John raakgesien en vir hom ‘n dansbeurs by ‘n Franse dansskool in Parys, Frankryk, gereël. As 14-jarige het Jacobs egter by die verkeerde adres in Parys aangeklop en so by die mimiekskool van die wêreldbekende Marcel Marceau beland. Marceau was so beïndruk met Jacobs se bewegingsvermoë en natuurlike aanvoeling vir mimiek dat hy gevra het dat Jacobs na sy skool oorgeplaas moet word.
“My passie vir Jesus” is my persoonlike verhaal,” sê Jacobs. “Dit is seker die eerlikste en mees persoonlike produksie wat ek nog ooit aangepak het. Dit vertel my eie verhaal van voortvarendheid, worsteling en uiteindelike bekeringstog , natuurlik in mimiek. In hierdie produksie gaan dit baie meer oor Jesus as oor John Jacobs en juis daarom is dit ook vir my ‘n eer om juis dié stuk te kom opvoer gedurende Paasfees.”
Jacobs het al vele internasionale toekennings verower, maar hy is veral trots op die Herrie Kanna-toekenning wat hy by die KKNK in 2002 verower het en ook die Kanna-toekenning vir die beste dans- en bewegingsteaterproduksie in 2003.