IN Die maan deur ’n gaatjie in die nag stel die bekende sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit saam met Chanie Jonker (klavier) en Annelie du Plessis-Hoberg (fluit) gehore by vanjaar se KKNK bekend aan Marie Tredoux, ’n legende op Jacobsbaai aan die Weskus.
Marie word in September 94 jaar oud en skep steeds liedjies.
Haar aangrypende Jacobsbaai se Aandlied verskyn in die nuwe FAK en Mis oor Jacobsbaai is in die tagtigerjare deur Laurika Rauch opgeneem.
Marie se liedjies herinner aan ’n Paryse straatkafee of ’n nostalgiese Nederlandse seemanslied. Dit wissel van meesleurende ballades tot vrolike liedjies met ’n ligter aanslag; altyd met haar liefde vir die natuur en haar geliefde Weskus en Jacobsbaai voorop.
Die Veteraan-liedjieskrywer/sanger Jannie du Toit het in 1988 verwerkings gedoen van haar liedjies vir ’n langspeelplaat, Optelgoed. Hy het besef dat hier ’n groot skat is wat nie vir Afrikaans verlore mag gaan nie. En na jare van vriendskap met Marie en haar mense besluit om ’n program van Marie se liedjies aan te bied.
Die naam van die produksie is ook die titel van een van Marie se mooiste liedjies, Die maan deur ’n gaatjie in die nag.
Die bindingsteks in die produksie is geskryf deur Dana Snyman, ’n vriend van Marie.
Die maan deur ’n gaatjie in die nag
Die legendariese Marie Tredoux (94) van Jacobsbaai. Foto verskaf