Absa weer hoofborg

Crispin Sonn (voorsitter van Kunste Onbeperk), Anet Pienaar-Vosloo, Hugo Theart (waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk), Nic Barrow (KKNK-stigterslid) en Pieter Fourie en Karen Meiring, albei voormalige uitvoerende hoofde van die KKNK, Sondag by die bekendstelling van die 25ste KKNK. Foto: Jeremeo Le Cordeur

ABSA is weer volgende jaar met die 25ste KKNK die hoofborg van die fees. Dié aankondiging is Sondagaand by die be­kendstelling van die 2019-fees in Kaapstad gedoen.

David Wingfield, bemarkingshoof van die Absa Groep, het in ’n verklaring gesê: “Africanacity is ’n unieke woord wat ons geskep het vir die kenmerkende vermoë van Afrikane om altyd merkwaardige maniere te vind om dinge tot stand te bring.

Kunstenaars en kultuurpraktisyns het dit deur die jare reggekry om dinge te laat gebeur wat ’n onuitwisbare impak maak op ons samelewing se psige. Dit is juis daarom dat ons voortgaan om hulle te ondersteun en geleenthede te skep waar hulle kan gedy. Die KKNK bied ’n platform waar al hul talente byeengebring kan word en met mense uit alle kringe gedeel kan word.”

Missie om verskil te maak
Kunste Onbeperk, die organisasie wat die KKNK aanbied, se missie is om deur die kunste ’n daadwerklike verskil tot samehorigheid in die land te maak, het Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, by die geleentheid gesê.

Volgens Sonn wil die organisasie oor die volgende paar jaar kunstenaars en die kunste landwyd ondersteun en voortbou op die sukses en nalatenskap van die afgelope 25 jaar.

Sonn se strewe om ook in Oudtshoorn en omgewing waar die KKNK jaarliks gehou word, ’n verskil te maak is deur die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, beaam deur beoogde samewerking tussen die munisipaliteit en Kunste Onbeperk aan te kondig. Dit behels uitgebreide projekte wat kuns, kultuur en entrepreneurskap, veral onder die jeug van die distrik, sal bevorder.

Feesprogram in Januarie bekend
Die tema van 25ste KKNK, wat deur die seremoniemeesters, Nina Swart en Paul Amas, bekend gemaak is, is Kultuurdiere.
Die KKNK25-feesprogram sal vanaf vroeg Januarie op die webwerf kknk.co.za beskikbaar wees met kaartjies wat vanaf 18 Januarie by Computicket gekoop kan word.

Volgens Hugo Theart, waarnemende uitvoe­rende hoof van Kunste Onbeperk, is daar ’n opwindende program wat op feesgangers wag met vele debuutproduksies en uitstaande kunstenaars.

“Die 25ste jaar is natuurlik ’n nostalgiese vie­ring van ’n kwarteeu van kunste in die Klein Karoo en 25 jaar van demokrasie. Ons ondersoek, herbesoek, stof af, maar ons kyk ook vorentoe en soos gewoonlik sal die fees ervarings uit die boonste rakke vir die almal bied.”

Die volledige program word vroeg in Januarie bekend gemaak, maar die aap is uit die mou gelaat met ’n paar hoogtepunte: Die vlagskip-dramavertoning van die KKNK25-fees is Koningin Lear, Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se her­verbeelding van die klassieke Shakespeare-werk. Marthinus Basson is die regisseur, met onder andere Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais en Neels van Jaarsveld in die rolverdeling.

Die jongspan kan uitsien na Jakkals & Wolf Onbeperk – ’n musiekproduksie vir die hele gesin, terwyl ’n uitstalling van die KKNK se feeskunstenaars oor die jare die kern sal vorm van 2019 se aanbod van visuele kuns.

Die Kuierbuurt bied nogmaals volop vermaak vir die hele gesin en weekkaartjies sal reeds vroeg beskikbaar wees.

Ses konserte met top-kunstenaars word aangebied op die Huisgenoot-verhoog, en daar sal elke dag gratis vermaak wees op die Castle-verhoog en vir die jongklomp by Speelbos.

Verblyf kan reeds bespreek word by tel 044 203 8600.

Vier kunstenaars vereer
Kunste Onbeperk het by die funksie vier kunstenaars vir hul bydrae tot die kunste vereer.

Athol Fugard is vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir sy Lewensbydrae tot die Teater; Amanda Strydom het die Kunste Onbeperk-prys ontvang vir haar Lewensbydrae tot Musiek; Lizz Meiring is met die Kunste Onbeperk-prys vir Diens aan die Kunste vereer vir haar bydrae as aktrise, skrywer, regisseur en mentor asook vir haar uitsonderlike werk vir die Teaterbystandsfonds en haar onbaatsugtige ondersteuning van jong talent en ander in die bedryf; terwyl Lynelle Kenned wat as aktrise, klassieke sangeres en in blyspele al verskeie pryse verower het, die Kunste Onbeperk-prys vir ’n jong kunstenaar wat nog ’n groot impak op die kunstebedryf sal hê, ontvang het.