Lonel se klipkuns trek aandag by KKNK

Loma Fivaz. Foto verskaf

Lonel Fivaz. Foto verskaf

‘N GRAAD 12-LEERDER van die Hoërskool Oudtshoorn, Lonel Fivaz (17), se kunstalent het tydens die KKNK op Oudtshoorn vir haar nuwe deure oopgemaak. Lonel was een van die promotors wat by Absa se Klipverfprojek gewerk het.

“Absa is baie opgewonde om jong plaaslike kunstalent te ontdek en sien daarna uit om Lonel se talent te ontwikkel en hopelik haar loopbaan in die kunste te sien floreer,” sê Adam Brooke, Absa se borgskapbestuurder.

Volgens Brooke was Absa op soek na klippe wat kreatief geverf is om aan Colan Sylvester (burgemeester van Oudtshoorn), Rhodé Snyman (uitvoerende hoof van die KKNK) en Gerrie Ferreira (eienaar van die grond waar die Absa Klipprojek gebaseer is) te oorhandig. Hy het twee klippe opgemerk wat Lonel geverf het.

“Ek het haar gevra om ’n derde klip te verf, wat deel van die oorhandiging kon wees en haar vernuf het my verbaas,” sê Brooke. Hy het besluit om haar aan die KKNK se visuele kunskurator, dr Paul Bayliss voor te stel. Bayliss het gehou van haar werk en aangebied om haar met haar loopbaan by te staan. Hy is tans besig om reëlings met ’n Oudtshoorn-kunstenaar te tref om as haar mentor op te tree, terwyl sy haar skoolloopbaan voltooi.

Absa het haar ook as ’n gas na die Absa L’Atelier-kompetisie in Johannesburg genooi, waar sy die Absa-galery gaan besoek en tyd saam met die 2014 L’Atelier-wenner en kurator van The Confessional (’n kunsuitstalling by die KKNK in 2017), Liberty Battson, gaan spandeer.

Lonel sê sy is baie opgewonde oor die geleentheid, aangesien sy nog nooit in Johannesburg of op ’n vliegtuig was nie. “Alles het so vinnig gebeur en dit is beslis iets wat ek nooit gedink het met my sal gebeur nie. Ek sien daarna uit om al die talentvolle kunstenaars te ontmoet en hoop dat hierdie geleentheid my kunsloopbaan sal vorm,” sê sy.

Bayliss ondersoek ook die moontlikheid om haar as kurator van ’n uitstalling deur jong kunstenaars in 2018 by die KKNK in te span.

Lonel wil na skool onderwys, met ’n spesiale fokus op kuns, studeer aangesien sy graag met kinders wil werk.