Vyf jaar tronkstraf vir man wat vrou huis toe moet dra

Deur Garnett Wicomb
’N MAN (23) van Calitzdorp wat sy meisie so erg aangerand het dat sy nie kon loop nie en hy haar toe huis toe gedra het, is in die Oudtshoorn Streek­hof aan aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind en vyf jaar gevangenisstraf opgelê.

Dalton Lot (23) het skuldig gepleit daarop dat hy die 21-jarige Jacqueline van Rooyen na ’n oop vlakte geneem het waar hy haar geskop en geslaan het terwyl albei baie dronk was.
’n Klagte van verkragting teen hom is teruggetrek.

Van Rooyen kon na die aanranding nie loop nie en is deur Lot huis toe gedra waar hy haar om verskoning gevra het.

Die staatsaanklaer, Nadie le Roux, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat die soort aanranding gereeld in die Calitzdorp-omgewing voorkom en sake dikwels teruggetrek word.
Die klaagster moes hospitaalbehandeling kry en kon vir drie maande nie lekker slaap nie.

“Dit was ’n nuttelose aanranding. Sy was lief vir die beskuldigde en hy tree so op,” het Le Roux gesê.
Lot se regsverteenwoodiger, Vaughen Shone, het ter versagting gesê hy is ’n eerste oortreder, nog jonk en het skuldig gepleit.

Hy was ook vir langer as agt maande verhoorafwagtend.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dit was ’n sinnelose aanranding en dat die hof lank nie met ’n saak te doen gehad het waarin ’n slagoffer soveel beserings opgedoen het nie.
“Die beskuldigde kan nie ’n opgeskorte of ligte vonnis verwag nie.

“Dit was ’n weerlose vrou,” het die landdros gesê.

Sy was volgens ’n slagofferverslag na die voorval skaam en het baie sleg gevoel.

Haar gesig het so snaaks gelyk dat haar kind nie na haar wou kyk nie.
Sy voel ook dat sy nie meer goed is nie.

Lot is ingevolge Artikel 276 (1) (i) vyf jaar tronkstraf opgelê.

Dit beteken dat hy na die uitdiening van ’n sesde van die vonnis om parool aansoek kan doen. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuur­wapen te besit.