Verkeersman-saak wag weer

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van Andrew Meintjies (52), ’n verkeersbeampte van Prins Albert wat na bewering toetse vir leerlingrybewyse gemanipuleer en ry­bewyse in ruil vir betaling uitgereik het, is verlede week in die Oudts­hoorn Streekhof tot 2018 uitgestel vir die getuienis van ’n tegnikus wat vir ’n maand nie beskikbaar is nie.

Streeklanddros LA Wilkens het die saak op versoek van die staatsaanklaer, Willem Vister, tot 22 Januarie 2018 uitgestel. Die ondersoekbe­amp­te, ao Jason Pietersen, het die hof mee­gedeel dat die betrokke amptenaar vir ’n maand op ’n kursus is. Hy moet getuig oor videomateriaal wat op ’n CD geplaas is waaroor die verdediging nie gelukkig is nie.

Meintjies se regsverteenwoordiger, Mathilda van Niekerk, het heftig be­swaar aangeteken. Sy wou weet hoe be­troubaar die getuienis van die tegnikus is en het dit vreemd gevind dat slegs een getuie vir die dag se verhoor by die hof was. Die hof het egter Vister se versoek goedgekeur asook die verdediging se versoek dat dit ’n finale uitstel vir staatsgetuienis moet wees. Meintjies en sy familie het hul teleurstelling uitgespreek omdat die saak eers volgende jaar sal hervat.

Twee datums, 22 en 23 Januarie 2018, is vir verdere verhoor bepaal.

Meintjies is Maart 2016 op Drie Susters deur die Valke in hegtenis geneem en daarna in die Prins Albert Landdroshof R2 000 borgtog toege­staan.