Tuis twee dae na sewejaarvonnis

Deur Garnett Wicomb
’N MAN wat skuldig bevind is aan moord op sy vrou, het na twee dae agter tralies borgtog gekry toe sy aansoek om appèl suksesvol was.

Gwngwa Wilson (50) van Bongolethu, is daaraan skuldig bevind dat hy sy vrou, Katrina, die aand van 26 September 2010 drie keer geskiet en sy op die toneel dood is. Hy is tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis.

Die hof het bevind dat hy geweet het wat hy doen en dat dit nie outomatisme was soos wat ’n psigiater, dr Clifford van Wyk, getuig het nie.

Die getuienis van dr HG de Clerq, ’n psigiater verbonde aan die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal, is deur die hof aanvaar. De Clerq het Wilson toerekeningsvatbaar bevind na 30 dae se observasie by die hospitaal. Volgens haar het hy die betrokke aand doelgerig opgetree.

“Indien die skietery outomatisme was sou mens verwag dat hy daarna by almal wou weet wat gebeur het. Dit was egter nie die geval nie,” het streeklanddros Mark van Wyngaardt in sy uitspraak gesê.
Wilson se regsverteenwoodiger, Vaughn Shone, het die hof meegedeel dat die beskuldigde intense berou het oor wat gebeur het en vir korrektiewe straf gevra. Hy het die vrou se ma en sy kinders om verskoning gevra en is deur almal vergewe.

Verlof om teen die vonnis te appelleer is twee dae later aan Wilson toegestaan en hy is op borgtog van R500 vrygelaat, onderhewig aan streng voorwaardes hangende die uitslag van die aansoek.