Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Bergsig, Calitzdorp wat van moord aangekla was, is in die Oudtshoorn Streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind.
Johannes Loff (31) het reeds tien vorige veroordelings teen sy naam.
Die vonnisoplegging van Loff is deur streeklanddros Retha Pretorius tot 13 Maart uitgestel.
Loff het ’n 34-jarige man, Johannes Baartman, op 6 Augustus 2016 in ’n buitekamer met ’n mes doodgesteek nadat hulle in ’n woordewisseling betrokke geraak het.
Volgens die landdros was die enigste staatsgetuie ’n tienjarige kind wat ook in die kamer was maar nie duidelik kon sien wat gebeur het nie omdat dit half donker was.
“Die hof het hier te doen met ’n dubbele versigtigheidsreël. Die enigste staatsgetuie was ’n tienjarige kind en dus ’n enkelgetuie.”
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof versoek om Loff aan moord skuldig te bevind en nie sy pleitverduideliking te aanvaar nie.
Loff se regshulpprokureur, Eugene Roos, het egter aangevoer dat sy kliënt nie beplan het om moord te pleeg nie en op die ingewing van die oomblik opgetree het.
Die landdros het Loff se pleitverduideliking aanvaar en bevind dat hy nie die doel gehad het om moord te pleeg nie alhoewel hy dit moes voorsien het.
“In die lig van die getuienis is die hof tevrede dat die beskuldigde skuldig is aan strafbare manslag,” het die landdros gesê en die saak vir ’n verslag van ’n proefbeampte en vonnisoplegging uitgestel.
Loff bly in aanhouding.