‘n Man wat twee beskermingbevele wat sy gewese vrou teen hom verkry het, verbreek het, is gister in die Oudtshoorn Streekhof skuldig bevind en opgeskorte vonnisse opgelê.
Lincoln Paulsen (48) is daaraan skuldig bevind dat hy twee keer interdikte verbreek het wat Elizabeth Paulsen teen hom verkry het, en ook daaraan dat hy ‘n vriendin van haar, Brenda Claassen, gedreig het dat hy haar sal klap “dat sy op die enjinkap van haar motor te lande sal kom”.
Paulsen het onskuldig gepleit, maar onder kruisondervraging erken dat hy fouteer het.
Hy het getuig dat hy na sy voormalige vrou se huis gegaan het om sy gereedskapkis te kry nadat sy aan hom gesê het hy kan dit kom haal. Hy het ontken dat hy haar met die dood gedreig het of gedreig het hy sou die huis se ruite stukkend gooi. Hy het gesê hy het nog nooit sy hande vir ‘n vrou opgelig nie. Volgens hom is sy gewese vrou die aggressiewe een.
Paulsen het erken dat hy voorheen tik gebruik het, maar dat hy vir meer as ‘n jaar en ‘n half “skoon” is nadat hy vir ‘n tyd in ‘n rehabilitasiesentrum opgeneem was.
Volgens die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, wil me Paulsen nie hê dat hy tronk toe gaan nie, maar net dat hy haar net moet uitlos. Sy het die hof gevra om hom op sy eie weergawe skuldig te bevind.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dat Paulsen aan ernstige misdade skuldig bevind is, maar dat hy hom ‘n laaste kans gee en dat hy daarvan gebruik moet maak. Hy het gesê Paulsen – ‘n ketelmaker van beroep – kan as hy wil weer ‘n goeie werk bekom en “opstaan”.
Paulsen is ‘n boete van R1 000 of 6 maande gevangenisstraf opgelê vir die verbreking vcan die twee beskermingsbevele. Dit is in geheel vir vyf jaar opgeskort. Op die klagte van aanranding is hy gevonnis tot ‘n boete van R200 of 60 dae gevangenisstraf wat ook voorwaardelik opgeskort is.
Hy is vrygespreek op die klagte van intimidasie en onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. (Berig deur Garnett Wicomb)