Geen borg vir aangeklaagde na vrou in woonstel beroof is

Landdroshof-Oudtshoorn-300x214
• Hofsake: Aanvalle op bejaardes

Deur Garnett Wicomb
“DIT is nie in belang van gereg­tigheid dat borgtog toegestaan word nie,” het landdros Roelf Konstabel Maandag in die Oudtshoorn Landdroshof gesê toe hy borgtog aan Renier Claassen (33) geweier het.

Claassen word saam met Ruan Nel (25) daarvan aangekla dat hulle ’n 62-jarige vrou in haar woonstel in St Georgestraat met die dood gedreig, haar beroof en met haar motor weg­gejaag het.

Claassen het aangedui dat hy onskuldig sal pleit en om borgtog aansoek doen omdat sy moeder met kanker gediagnoseer is en hy by sy kind wil uitkom. “Ek is onskuldig in die saak,” het hy aan die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, gesê.

Die ondersoekbeampte, ao Wessels Bouwer, het borgtog teengestaan omdat Claassen ’n geneigdheid toon om misdaad te pleeg. Volgens Bouwer kan nog klagtes, een van roof en een van diefstal uit ’n voertuig, by die klagstaat gevoeg word.

Hy sê die klaer in die saak vrees vir haar lewe en slaap elke aand by ander mense. Sy is erg getraumatiseer.

Volgens hom verbind beeldmate­riaal Claassen en Nel met die misdaad.

Claassen se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof om borgtog gevra omdat die klaer net vir Nel geïdentifiseer het.

Van Rooyen het gesê daar is ’n groot waarskynlikheid dat Claassen weer by misdaad betrokke kan raak indien borgtog aan hom toegestaan word en die hof versoek om borgtog te weier. “Die staat het wel ’n prima facie-saak,” het sy gesê.

Volgens die staat het Claassen reeds ses relevante oneerlikheidsmisdade gepleeg.

Nel, Claassen se medebeskuldigde, was ten tye van die beweerde voorval op parool. Dit is daarna opgeskort.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 11 Desember uitgestel.